Hond soek ‘aftreehuis’ ná trauma

Die hond Adira (Foto: DBV)

Al vier haar pote is met kabelbinders vasgebind en sy is vir dood agtergelaat – maar hoewel hierdie brakkie se verhaal hartseer begin, is dit hopelik nie hoe dit vir haar gaan eindig nie.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Louis Trichardt in Limpopo sê hy is op soek na ’n rustige aftreehuis vir die optelhond genaamd Adira nadat fietsryers verlede maand op haar afgekom het waar sy met al vier pote vasgebind roerloos in ’n beboste gebied gelê het.

Die ouerige hond het vermoedelik ’n hele paar dae daar gelê en was dit nie vir die koue daardie week in Louis Trichardt nie, het Adira dit waarskynlik nie oorleef nie.

“Haar mense het haar daar gelos sodat sy nie kon terugloop huis toe nie en daar moes doodgaan,” vertel Alicia Thomas, adjunkvoorsitter van die plaaslike DBV-komitee.

Die kabelbinders waarmee Adira se pote vasgebind is. (Foto: DBV)

Die fietsryers het op 4 Oktober op Adira afgekom, haar opgetel en na die plaaslike DBV geneem het. Sy was met haar aankoms geweldig honger, ontwater, deurmekaar en in pyn. Tog was sy nie vir ’n oomblik aggressief nie, vertel Thomas.

“Sy het die eerste week net geslaap.

“Jy moet ’n hond se vertroue wen. Ek kan met party diere vyf minute spandeer en hulle vertrou my. Met [Adira] moes ek vyf dae tot ’n week wag, maar toe was daar net ’n oomblik en dit was asof daar ’n lig aangegaan en sy weer begin lewe het.”

Adira, wat “sterk” beteken, is in dié stadium steeds in die DBV se sorg, maar is beskikbaar vir aanneming. Die wonde aan haar pote weens die kabelbinders het intussen genees.

“Sy is ’n dierbare hond. Sy glimlag. ’n Mens kan sien sy het ’n harde lewe gehad, maar sy het die mooiste glimlag.”

Skakel die DBV in Louis Trichardt vir meer inligting oor die aannemingsproses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ettienne ·

Mense wat dit doen hoort nie in die samelewing nie. Hulle moet vervolg word. Ek hoop daar is n ondersoek en kriminele klagte gelê.

Snowball ·

Hoe kyk ‘n mens in daai sagte, liefdevolle oë en doen so ‘n wrede daad? Dis om van te huil – die mensdom is boos verby.

Neelsie ·

Mense wat dit aan diere kan doen sal dit aan ander mense ook doen. Sluit hulle toe en gooi die sleutel weg!!

Saartjie ·

Aangesien sy ‘n ouer hond is, moet iemand haar tog herken … sodat die eienaars vervolg kan word!

Chantel ·

Ek wil my mening lig, maar ek sal toegesluit word. Dus sê ek net eerder, ek hoop werklik die woef kry ‘n goeie huis.

Vlam ·

Ai, my hart is stukkend vir haar. Het 3 honde kinders en ongelukkig maak 2 van hulle my siek ( Asma en Jack Russels ), maar ons het besluit ons hou hulle omdat hulle al 12 jaar deel is van my lewe

JM ·

Wreedheid in hierdie land ken geen perke nie. ‘n Arme hond wat haarself nie kan verdedig nie! Is dankbaar dat dit nou met haar goed gaan.

Celeste ·

Ek sal haar vat. Dit Kos net so Baie Om hulle aan te neem

JohanR ·

En na die wreedheid straal sy nog liefde uit. Hoop sy kry ‘n liefdevol huis.

Annakapat ·

Sy moet by 2 oumensies gaan bly – hulle sal goeie geselskap vir mekaar wees.
Hoop ook sy kry ‘n goeie huis vol liefde en versorging.
Sterkte liefdier

Chris ·

Sy is pragtig as ek nie so ver was nie het ek haar gaan haal.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Oubaas se honne! Ek hoop jy kry ‘n goeie huis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.