Hond steeds soek ná kaping

Sasha. Foto: Verskaf

  • [Opvolg] Maroela Media het verneem dat Sasha Sondagmiddag veilig opgespoor is. Meer inligting later.

Met ʼn storm wat Kaapstad teister, het die soektog verskerp na Sasha, ʼn vyfjarige Labradorkruising-teef wat Donderdag tydens ʼn kaping in Kaapstad vermis geraak het.

Michelle Barnard, direkteur van die hondewelsynorganisasie Rescue Is The New Black, het Sondag aan Maroela Media gesê Sasha is onlangs in die Montana-voorstad opgemerk.

“Baie mense is uit na die omgewing om na haar te soek. Ons hoop sy word gevind voor die storm ons tref,” het Barnard gesê.

Maroela Media het Saterdag berig ʼn R10 000-beloning word uitgeloof om Sasha op te spoor nadat haar 59-jarige eienaar se voertuig omstreeks 14:00 by haar huis in Rondebosch in die oprit na haar huis gekaap is. Die familie het versoek dat die slagoffer se naam nie bekend gemaak word nie.

“Die vrou het vir Sasha en haar ander hond in haar voertuig gelaai en was in die oprit van haar huis toe ʼn man die voertuig gekaap het,” het Barnard gesê.

“Die vrou het verbete probeer om haar honde te red en is vir ʼn geruime tyd langs haar voertuig gesleep terwyl die kaper weggejaag het.”

Die vrou het in ʼn stadium losgekom en in die pad geval. Die kaper het in die rigting van die Kaapstad-lughawe gevlug. Iemand het die vrou te hulp gesnel en die polisie ontbied.

“Die polisie het sowat tien minute later die voertuig en verdagte by die aansluitings van Robert Subukweweg en Valhallarylaan in Valhallapark aangekeer en hom in hegtenis geneem. Dit is toe dat Sasha uit die voertuig gespring en weggehardloop het. Die ander hond het in die motor bly sit en is veilig.”

Sasha se eienaar is met ernstige beserings na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar sy in die waakeenheid opgeneem is vir mediese behandeling. Haar toestand is stabiel, maar haar hart is gebroke omdat Sasha weg is.

Barnard het gesê ʼn familielid van die slagoffer het aanvanklik R1 000 as beloning uitgeloof vir enigiemand wat Sasha opspoor. Lede van die publiek en ander skenkers het egter vinnig hul harte en beursies oopgemaak sedert hulle van die voorval gehoor het en daar is nou genoeg geld vir ʼn R10 000-beloning.

Enigiemand wat Sasha opmerk, word versoek om Barnard by 076 186 5079 te bel.

Sasha. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wilma ·

Honde is betroubaar. Jy nogi hond gehad het ni weet jy nix van dai liefde. Indien jy ni 100persent commit is tot jou hond muni een aanhou. My hart behoort aan honde. Te veel idiote in mensdom.

Esta venter ·

Ek hoop uit my hart dat sasha gevind sal word. Asb soek die honnekind, ek sou ook maar sit in Standerton.

Cynthia TREDOUX ·

Halleluja…SASHA IS GEVIND…en VEILIG…kyk bo aan hierdie berig…meer besonderhede sal later volg aldus Maroela Media!

Diereliefhebber ·

Dankie vir al die mense wat gehelp soek het, dis waarlik n wonderwerk…ek wag al die hele naweek dat Sasha gevind moet word. Kan nou die week positief begin my gebed is verhoor!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.