Hond talle kere gesteek toe sy gesin beskerm

Skye het verbete baklei om haar gesin te beskerm en is erg beseer.

Mense het hul harte oopgemaak vir ʼn pitbull wat verbete geveg het om haar gesin te beskerm en in die proses talle messteke opgedoen het.

Marusckha Wessels sê haar skoonpa het Maandag omstreeks 23:00 gaan ondersoek instel nadat Skye verwoed by die motorhuis van die gesin se huis in Arboretum, Richardsbaai, begin blaf het. Hulle het aanvanklik gedink ʼn kat het Skye, ʼn silwerblou pitbull, só op hol.

Wessels sê haar skoonpa het eers die buitelig aangeskakel om te probeer sien wat aangaan en het daarna die motorhuisdeur oopgemaak en die lig daar aangeskakel. Binne-in die motorhuis het hy ʼn man met ʼn mes betrap en die twee het dadelik in ʼn struweling betrokke geraak.

‘n Erg beseer Skye na die voorval.

Wessels sê haar skoonpa en haar man, Daniel, het albei messteke opgedoen terwyl hulle die man probeer vang het. “Skye het die man rondgeruk en gepluk, maar sy het uiteindelik die ergste daarvan afgekom.”

Die betreder het haar nege keer op haar lyf en twee keer in die gesig gesteek. Skye het nogtans nie bes gegee nie en die man het eindelik oor ʼn muur gevlug en by die bure se erf uit verdwyn.

“Ons dink dit was iemand wat moontlik iets klein wou steel. Ons het Skye nou al ses jaar lank en daar was in die tyd nog nooit ʼn inbraak by ons nie. Die ou het seker verby haar boks geloop en dit het haar wakker gemaak. Hy het dalk in die motorhuis vir haar probeer wegkruip,” het Wessels gesê.

Wessels vertel hulle het dadelik ʼn veearts begin soek om Skye te help en die Richardsbaai-dierebeskermingsvereniging (DBV) het hulle blitsig na een verwys. Die veearts het Skye ingewag en dadelik begin behandel. Sy het heelwat bloed verloor en moes onder meer ʼn operasie ondergaan om haar wonde te heg.

“Sy het nie een keer deur die messtekery gehuil nie; dit was eers toe ek haar by die veearts moes los, dat sy begin huil het.”

Engela Hamman, waarnemende adjunkvoorsitter van die Richardsbaai-DBV se raad, sê hulle het Skye se verhaal op hul Facebook-blad gedeel en is oorweldig deur die hoeveelheid aanbiedinge van hulp om die dapper hond se mediese koste te help betaal. “Mense het hulle harte oopgemaak. Skye se naam was op soveel mense se lippe en ons is so trots dat ons ook kon help,” het Hamman gesê.

Skye saam met een van haar geliefde gesinslede.

Wessels het die DBV en elkeen wat ʼn bydrae gelewer het, daarvoor bedank.

“Mense het ons só mooi gehelp en al Skye se onkoste gedek. Ons het gegaan van geen geld vir behandeling nie, tot waar ons hele rekening binne ʼn week vereffen is,” het Wessels gesê.

Skye is Donderdag ontslaan en sterk nou tuis aan. “Sy slaap snoesig in die huis en is nou maar nog effe skrikkerig om na buite te gaan. Sy sal weer herstel, sy is ʼn beast,” het Wessels gesê.

Die gesin het Skye as ʼn nege maande oue hondjie gekry en sy is uiters beskermend oor haar huismense. Sy is egter klei in die hande van die Wesselse se dogtertjies, onderskeidelik drie en sewe jaar oud . Die twee het minstens regdeur die aanval geslaap.

Wessels sê die dogtertjies verf graag Skye se naels.

“Sy het so hard baklei vir ons. Sy is baie dierbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Annakapat ·

Jy is so dapper Skye!
Dankie aan almal wat bygedra het vir haar onkoste!
Gou gesond word

Adrian ·

Hulle sou seker die hond moes uitsit as hy die inbreker dood gebyt het…???

Scalla ·

Brawe hond, gee haar n groot steak en n klem in die kaak inspuiting asseblief!!

Helene ·

Dankie dapper Skye. Jy is n familielid duisend. Gou gesond word!!

Termiet ·

Knop in MY keel. So lief vir honde en hulle is so onbaatsugtig.

Mudguard ·

Ek hoop hulle het die hond se bek ontsmet !! Gou gesond word.

Annelize ·

Gee haar die beste en vetste Rumpsteak wat julle kan kry. Skye is ‘n heldin, en in die proses hoop ek sy het ‘n lansie gebreek vir die Pitties wat altyd so sleg gese word.

Ek self is die trotste eienaar van ‘n Pittie wat nou al by twee geleenthede ‘n betreder in ons erf lelik laat les opse het. Hulle sal hulle laaste bloed vir hulle gesin tap. Pitties word aangesien en verkeerdelik grootgemaak as ‘n “killing machine” en dan “backfire” dit in die eienaar se gesig op die mees traumatiese maniere, en dan moet die hond met die klad loop.

Hoop Skye is sommer gou weer op al vier pootjies.

JohanR ·

Dankie Skye. Hoop jy het darem ‘n paar lekker rukke en byte ingekry. Hoop die ou daag by ‘n hospitaal op om sy wonde te laat toewerk. Sy straf moet nie tronkstraf wees nie, maar hy moet vir vyf jaar by die DBV werk. Let the time fit the crime…….

Sandra ·

Liewe Skye, ek hoop jy word sommer gou gesond. Met soveel liefde is ek oortuig daarvan jy is in goeie hande. Dis al wat hulle wil doen is om ons te beskerm, en sy het seker so verbete geveg met die inbreker want sy het haar twee dogtertjies beskerm wat sy geweet het in die huis slaap.

Werner ·

Wys jou net hulle is bereid om jou dood te maak vir iets kleins goeie hond hoop sy het n groot steak gekry

Chantel ·

Pitties, sal hulle gesinne tot die dood toe beskerm. Hulle wil om te oorleef is merkwaardig. Ons het 3, almal slaap in die huis. Ek los my honde glad nie buite nie, want hulle word vergiftig, juis omdat die boosdoeners weet wat se veggees hierdie diere het. Hy sal wel die nagevolge dra van haar byt. Hond-byt wonde veroorsaak infeksie, indien jy die dadelik of onlangs met klem-in-die-kaak gespuit is nie. Hierdie wonde veroorsaak geweldige infeksie gepaardgaande met pyn.

Ek hoop sy herstel volkom en hou geen emosionele letsels oor nie.

Yolandie ·

Baie dapper honnekind. Jy verdien ‘n baie groot bederf dat sy so hard baklei het om jou mense te beskerm. Mag jy sommer gou herstel van al jou wonde. Wel gedaan Skye!!!

agnes ·

Soon n dapper hond! Bederf haar maar lekker, sy verdien dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.