Hond van rots in see gered

Die hond op die rots sowat 30 m van die strand af. Foto: NSRI

ʼn Hond is Woensdag van ʼn rots in die see by die Harmony Park-oord tussen die Strand en Gordonsbaai gered.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), was die hond op ʼn rots sowat 30 m in die see in vasgekeer.

Lede van die NSRI se Gordonsbaai-tak is na die toneel en lede van dierewelsynsorganisasies is ook ontbied.

“Ons vermoed die hond het weens die stygende gety op die rots beland. Die hond het net daar gesit en dit het gelyk of hy te bang is om weer in die water te spring en na die strand te swem.”

ʼn Egpaar van die omgewing het die NSRI ontbied. Die eienaar van die hond was nie op die toneel nie.

“Volgens die egpaar het ʼn lid van die publiek in die see gespring en na die hond geswem. Die hond het egter aggressief voorgekom en die omstander het dus terug na die strand geswem.”

Kyle en die hond na die suksesvolle reddingspoging. Foto: NSRI

Kyle Burns, ʼn reddingswemmer van die NSRI, het na die rots geswem. Die hond het weer aggressief voorgekom en vir Burns geblaf, maar hy kon daarin slaag om die hond te kalmeer.

“Burns het eers vir ʼn rukkie saam met die hond op die rots gesit en vir hom verduidelik dat dit beter sal wees as hulle teruggaan strand toe.” Burns het hierna met die hond terug strand toe geswem.

Die hond, ʼn reun van gemengde ras, is nou in die sorg van ʼn dierewelsynsorganisasie.

“Burns het gesê indien niemand die hond opeis nie, gaan hy sy ouers probeer oortuig om hom toe te laat om die hond aan te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

christo ·

Kyle, daai hond is joune! Hy vertrou jou en jy is sommer die NSRI se ‘ dog whisperer ‘ ook.

Fae Fubar ·

Te dierbaar. Ja, Bernard, dit maak ‘n groot verskil aan ‘n mens se dag om goeie nuus te lees.

Kattebol ·

Wonderlike einde aan ‘n storie wat so hartseer kon gewees het. Bravo.

Suzette ·

Wat ‘n pragtige berig. Goed gedoen Kyle – ek hoop jy kan hom aanneem, ek glo jou ouers sal te vinde wees daarvoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.