Hond verskeur jong vrou se gesig

Elsebé Cronjé. Foto: Facebook

Elsebé Cronjé. Foto: Facebook

Daar lê maande se herstel voor vir ʼn jong vrou van Stellenbosch nadat haar gesig deur ʼn boerboel verskeur is.

Elsebé Cronjé (24), ʼn sjef, sterk tans by haar ouerhuis in Moorreesburg aan nadat die hond haar op 7 Junie aangeval het. Sy moes die dag van die voorval ʼn operasie ondergaan nadat haar neus, bolip en oogbank geskeur en haar wangbeen gekraak is. Haar wonde is geheg en ʼn plaat moes in haar wang ingesit word.

Amanda, Elsebé se ma, het Maandag aan Maroela Media gesê die voorval het op die Jonkershoek-plaas van een van haar dogter se vriende gebeur. “Elsebé kom gereeld daar en sy ken die honde goed. Sy het die oggend met die honde gaan stap en toe sy terugkom, op die gras gaan sit en met hulle gespeel,” het Amanda vertel.

“Die eienaar het uit die huis gekom en langs haar kom sit. Die boerboel het skielik voor haar kom sit en vir haar gegrom. Nog voordat sy enigiets kon doen of sê, het hy haar in haar gesig gebyt.”

Amanda het gesê hulle het nie regtig ʼn verklaring hoekom die hond Elsebé gebyt het nie, maar die hond het glo voorheen sy eienaar so erg gebyt dat hy steke moes kry. “Dit ontstel my dat die eienaar geweet het dit is ʼn aggressiewe hond waarmee hy in die verlede al probleme gehad het, maar hy hou hom nie weg van sy kuiergaste nie. ʼn Hond kan baie wild wees en jy het nie altyd beheer oor sy reaksies nie. So, ʼn mens moet baie versigtig wees.”

Die eienaar het besluit om nie die hond te laat uitsit nie en het gesê die hond is deel van sy familie, het sy gesê.

Volgens Amanda is dit nie in hierdie stadium moontlik om te sê of Elsebé plastiese chirurgie sal moet kry nie, omdat al die wonde eers ten volle moet herstel. “Die mond-en-kaak-chirurg het gesê ons kan eers oor 12 tot 18 maande begin kyk na moontlike plastiese chirurgie.”

Elsebé sal ook nog ʼn hele paar weke moet aansterk voordat sy weer in staat sal wees om te begin werk. Sy is onlangs as hoofsjef by Langkloof Roses in Wellington aangestel en sou einde Junie daar begin werk het. “Gelukkig was haar nuwe werkgewer so gaaf om te sê hulle sal vir haar wag tot sy weer gereed is om te werk. Dit gee haar iets om na uit te sien,” het Amanda gesê.

“Elsebé is baie emosioneel in hierdie stadium. Ek dink die werklikheid van wat gebeur het, begin nou eers insink. En natuurlik het haar selfvertroue ʼn helse knou gekry ná hierdie ding. Daar is erge letsels aan haar gesig en dit is nie mooi nie. Haar lewe het permanent hierdeur verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

SNEL ·

Kry Elsabé so jammer, moes vreeslik gewees het en nou om die letsels te moet aanvaar is n ander storie. Ek het ook so letsel wat almal na staar (niks kan dit wegsteek nie, dis daar vir die wêreld om te sien) en soms vrae vra, maar punt is, ek is nog wie ek is en my “dop” maak my nie, ek sal ook nie toelaat dat n letsel my menswees verander en my lewe oorheers nie. Vat n dag op n slag en glo in jouself, mens is sterker as wat jy dink en staan sterk, op en af dae is daar altyd, maar dit het almal, dis om op te staan en nie te bly lê nie wat tel. Nogmaals baie sterkte.

KarooKlong ·

So die eienaar se familie lede kan maar skade berokken soos hulle wil?

elmien ·

As mense net sal leer om nie laer as n hond te daal nie sal baie minder mense gebyt word!! Mens sit nooit laag soos die hond nie, veral sekere “breeds” . Nou is dit weer die hond se skuld soos altyd. Ons is as kinders geleer jy vat nie enige hond nie en jy gaan sit nooit op die grond saam met n hond nie. Die hond wou ook dalk sy eienaar verdedig. Mens weet nooit wat in honde se koppe aangaan nie so moet altyd weet enige iets kan gebeur

Dave ·

Miskien moes jy bietjie meer uitgebrei het op wat jy gesê het Elmien. Dit kan van groot waarde wees vir vele mense. Ek sal nie daarvan hou dat mense vinnig lees bo-oor iets wat waardevol wat jy gesê het. Dit kan mis gelees word. Ek was in die geselsskap waar iemand wat met leeus werk, gesê het terwyl hy bo-op ‘n leeu se rug gesit het, dat hy sorg dat die leeus altyd opkyk na hom. Gesê dat hy sorg dat hy nooit op ‘n laer vlak is as hulle. ‘n Tog, ‘n leeuwyfie het my gestorm vanuit ‘n lêende posisie terwyl sy opgekyk het na my in die kar en ‘n varkhondteef het my in die been gehap terwyl ek oor haar uitgetoring het, maar wat jy sê mag dalk tog van waarde wees mbt dieresielkunde.

Shannon ·

Baie baie dankie Elmien. Weet my oom in Switserland het `n getroue St. Bernard gehad. Eendag het my oom in sneeu vasgeval. A.g.v die feit dat hy nie bo die hond kon uit troon nie, moes hy die hond wegjaag. Die brak het hom toe daar gelaat en my oom is toe heen.
Nogmals dankie vir jou boereraat.

Pixie ·

Elmien ek stem saam met jou. Ja alweer die hond se skuld. Ek is jammer vir die dame maar ag asseblief tog dit is nie ALTYD die hond se skuld nie. Ek is ook doodseker daarvan dat die hond sy eienaar wou verdedig. Dit is mos waarom honde daar is. Ek woon alleen en het 17 honde en daar is ‘n waarskuwingsbordjie op my hek so te duiwel met enige een wat inkom, jy sal nie sonder letsels uitgaan nie. Waarom luister mense nie en waarom leer hulle nie meer van honde en honde se gewoontes en giere nie? Ag en die arme hond is seker nou uitgesit of geskiet. Dit maak my baie ongelukkig en hartseer.

Gina ·

As die eineaar geweeet het die hond is gevaarlik hoekom laat hy gaste toe by die hond. Dan moet hy mos vir haar skade betaal, hy hettt dan geweet die hond byt. Volgende keer kan die hond dalk iemand dood byt dan sit hy met n baie groter probleem. Wonder hoe voel hy as hy net na haar geskende gesig kyk. Seker goed want anders sou hy al haar mediese kostes betaal het

jhon smith ·

Oulike brakie n mens raak tog so lief vir hulle, tot eendag, nou is die meisie geskend, pofaders, spoeg koberas, leeus jellievisse, boerboele, en aasfoels maak almal die wonderlikste troetel diere.

CHRISTA ·

Ek weet nie so mooi nie – hy het dan al sy eienaar gebyt. Toe reeds moes die eienaar se oë oopgegaan het!!!

sp ·

ek boer hier in die weskus en my persoonlike opinie. as my hond iemand byt sonder dat ek hom oodrag gee om my en my familie te beskerm, vrek hy voor daar n nuwe dag breuk. Elsebe sterkte vir jou en mag GOD jou sterk maak dat jy met volle vertroue die wereld in die oe kak kyk. ons bid vir jou.

Krokkie69 ·

Tot die dag wat mens en dier om ‘n tafel kan sit en gesels sal ons nooit weet wat in ‘n hond se kop aangaan nie ,ons maak hulle maar groot soos kinders maar tog het hulle hul eie DNA en sal dier bly ! En om op ‘n plaas te bly met poedels gaan ook nie help nie , kom ons skryf dit toe as ‘n fratsongeluk, deur ‘n dierekind wat die verkeerde besluit gemaak het , bid vir ‘n spoedige herstel aan die dame.

Poppie ·

Voor n boerboel ”ongemaklik” raak by iemand, begin sy oë se kleur verander. Dan moet jy weet jy moet jouself baie stadig verwyder. Dalk wou sy die hond se kop vryf en oor die oë gegaan. Verkeerdste ding om te doen is om oor die oë te gaan dat hy jou nie kan sien nie. Dan sal hy aanval. En dit meer uit selfverdediging oor hy bedreig voel. Niemand weet wat gebeur het dat hy sy eie baas gebyt het nie. Niemand kan dus kommentaar daaroor lewer.

corrie ·

Ek is n groot boerboel liefhebber en enige boerboel wat in n gesin woon en nie as waghond opgelei is nie, is glad nie veronderstel om agressie te toon nie. Die boerboel spesie kry karakter afwykings en as n boerboel eers agresief was teenoor enige persoon wat gereeld by hom kom of in die gedin woon, moet hy liefs as n waghond aangewend en dienooreenkomstig behandel word of uitvgesit word. Dit is n groot en bsie sterk dier en as dit my dogter was sou ek beslis die eienaar verantwoordelik gehou het veral aangesien die hond al iemand in die gesin gebyt het – hy sal dit weer doen totdat die eienaar wakker skrik . . .

lizza ·

Stem saam, ek het 2 boerboele gehad en nie 1 dag agresief gewees teenoor enige iemand nie tensy indringers. Selfde met ons pitbul nou, grootste baba ooit. Hang af van die eienaars. Sit die hond uit.

Theresa ·

Ek stem Elmien. Meer as 100% saam met jou. Dit is altyd die hond se skuld – dit is baie jammer. Ek sal ook nie die hond laat uitsit nie. Maar die eienaar moet sy honde toemaak as daar ander mense op die erf is om sulke dinge te vermy. Hy het mos geweet dat die hond knorrig is. Mense is baie onkundig wat sekere honde-rasse aanbetref. Mense doen nie hul huiswerk voor hulle honde aanskaf nie. Daar moet na alles van die spesifieke honde-ras gekyk word VOOR jy een aanskaf. In hierdie geval blameer ek die eienaar NIE die hond nie.

Natascha ·

Whoa! Nee mens laat sit nie net sommer ‘n dier uit vir elke ding nie maar wanneer ‘n hond so byt is ek jammer maar dis tyd! Dis maklik om Elsebe te probeer teiken maar as dit jou eie kind is wat so gebyt is gaan jy nog die hond se kant kies? Vra maar net.

magriet ·

ek is so bly die eienaar het besluit om die hond nie te laat uitsit nie.

Janine ·

Dis ongelukkig dat die meisiekind so seer gekry het, en ek hoop sy herstel vinnig.

Ek sou dink dis die eienaar se plig om dadelik op te tree en iets te doen omtrent die hond se aggressie. Daar is rehabilitasie beskikbaar vir honde. Hopelik is dit ook nie te laat vir ordentelike opleiding nie.

Leonora Taljaard ·

Kyk dit is die nuuste wat ek gehoor het al. Jou eie hond wat jou moet beskerm byt jou, en jy hou hom nogsteeds aan. Ek het ook groot honde en n tellery. My honde is soos my kinders maar as my hond iemand sommer net byt vir geen rede dan sal ek hom tot niet maak. Hierdie hond het haar geken, en hy gaan en sal haar weer byt en hierdie keer is sy miskien nie so gelukkig nie, wat as hy n kind bydam en sy eienaar is nie vinnig genoeg by nie. Is n hond n mens se lewe werd as hy agressief voorkom. Nee 100 maal nee.

Lelani Botha ·

So hond het my boetie kleintyd ook in die gesig gebyt, hy kon sy oog verloor het, die mense het hul hond laat uitsit en vir nadoodse ondersoek gestuur, toe bevind hulle die hond het ‘n breingewas en dis wat hom so agresief gemaak het. Moet nog iemand dan gebyt word en met letsels sit voor die eienaars van die hond se oë oopgaan. Hoekom is dit ook dat boerboele altyd mense net in die gesig byt…

Janine ·

Dis nie net die boerboel wat vir die gesig gaan nie; meeste honde gaan dadelik vir die gesig of keel. Selfs die klein brakkies. ;) Wat betref die breingewas; ek sou ook voorstel die eienaar vat sy hond vir ‘n volledige ondersoek. Daar kan ‘n mediese rede wees waarom hy reeds twee keer aangeval het.

Charlotte van Niekerk ·

Baie bly die hond is nie uitgesit nie en GEEN hond val jou net aan nie “they life in the moment” en reageer dan dadelik. As sy diere gedrag ken sou sy aan sy lyftaal gesien het iets geval hom nie en teen die tyd dat hy grom het hy al baie gewaarsku maar mense het nie die nodige kennis van diere nie. Jy speel ook nie met Boerboele op die gras as hy nie jou eie dier is nie, hulle is nie juis spellerig nie. Mense moet hulle opskerp om diere beter te verstaan.

Santi ·

My simpatie le by die jong dame en nie by die hond nie. My dogter is in 2007 deur n boerboel ook in die gesig gebyt. Sy kry nou nog behandeling en dit kos my n fortein. Wat gee die eienaar om wie se hond dit is. Niks. Verklaar hulself bankrot. Sterkte ek weet waardeur jul gaan. My dogter was amper 10 toe dit gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.