Hond vir dood gelos ná persoon ‘in uniform’ losbrand

Spike se eienaar het hom na die skietery op ‘n trollie gelaai en huis toe geneem. (Foto: Pieter Wepener)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein probeer nog agter die kap van die byl kom nadat ʼn hond Dinsdag deur “iemand in ʼn uniform” geskiet en swaar gewond vir dood agtergelaat is.

Pieter Wepener, ʼn inwoner van die Bloemspruit-omgewing, het Woensdag gesê ʼn veewagter het kilometers ver gehardloop om by hom hulp vir die dier te kom soek.

Die hond behoort aan ʼn inwoner van ʼn informele nedersetting in die omgewing. Sy eienaar was na bewering onder ʼn groep mense wat hout op ʼn verlate stuk grond in die omgewing bymekaargemaak het.

Wepener sê die mense se honde stap gereeld saam met hulle in die omgewing.

Spike se eienaar het hom tuis aanvanklik self probeer versorg. (Foto: Bloemfontein-DBV)

Hy het na die toneel gejaag om na die hond te gaan soek, maar kon hom nêrens vind nie. Ná ʼn soektog het hy die hond en sy eienaar ʼn ent verder langs ʼn pad opgespoor. Die vrou het die hond op ʼn aangelapte trollie gelaai en was desperaat besig om die bloeiende dier terug huis toe te sleep.

Wepener het inderhaas terug na sy huis gery en die DBV van daar af ontbied. Met sy terugkeer was die twee weer skoonveld.

Duan Matthee, ʼn woordvoerder van die Bloemfontein-DBV, het gesê hulle is dadelik na die gebied en het op en af deur die strate gery op soek na die hond. Iemand het hulle eindelik gewys waar die dier is.

Dáár het sy eienaar die hond, moontlik ʼn Labrador-kruising, reeds probeer verbind. ʼn Verband is om sy wonde gedraai en ys op sy geswelde lyfie gesit.

Die hond se eienaar was bitter ontsteld. (Foto: Pieter Wepener)

“Hulle het regtig hul bes gedoen om die hondjie te help.”

Volgens Matthee het die vrou aan hom gesê iemand in ʼn uniform het die hond geskiet. Sy kon egter nie vir seker sê of dit ʼn polisielid, of moontlik ʼn veiligheidswag in uniform van ʼn private maatskappy was nie.

Matthee sê die hond, wat hy sedertdien Spike gedoop het, is glad nie aggressief nie en die vrou sê sy het geen benul waarom daar op haar hond losgebrand is nie.

Sy het hom intussen aan die DBV afgeteken omdat Spike heelwat nasorg gaan benodig en sy dit nie kan behartig nie.

Spike se been gaan waarskynlik afgesit word. (Foto: Bloemfontein-DBV)

Spike het vanoggend ʼn operasie ondergaan. Die koeël het sy linkervoorbeen vergruis, deur sy blad getrek, is by sy ribbes uit en het sy agterpoot getref. Sy been en twee tone aan dié poot gaan na verwagting tydens die operasie geamputeer word, het Matthee gesê.

“Hy is ʼn oulike, sterk hondjie en vaar goed, maar hy het geweldig baie pyn verduur. ʼn Mens kon hom kwalik optel,” het hy gesê.

Matthee het intussen by die polisie navraag gedoen of enige polisielid aangemeld het dat hy sy vuurwapen Dinsdag afgevuur het. Daar is ook verskeie private veiligheidsmaatskappye in die omgewing en hy sê die DBV gaan aanhou soek na die persoon wat Spike gewond het.

“Ons doen alles wat ons kan om geregtigheid vir Spike te laat geskied,” het hy gesê.

Intussen probeer hulle geld insamel om Spike se mediese onkoste te betaal.

Sers. Ikobeng Hlubi, polisiewoordvoerder, het gesê sover die polisie kon vasstel was een van sy beamptes nie by die voorval betrokke nie. Daar is ook geen klagte aanhangig gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leonie

Dankie Maroela dat julle die artikel geplaas het. ‘n lot mense het reeds donasies gegee om vir Spike te help maar die DBV het nog nodig. Dis so tragies. Hoop die vark wat dit gedoen het word opgespoor en vining ook. Lae luis!!! Word gou gesond Spike!!

Ilse

Dit raak nou mode vir mense in uniform om honde links en reg te skiet, omdat hulle “mag” het. Daardie persoon moet streng verantwoordlik gehou word en sommer geskors word. Mag die hond se operasie goed verloop en vinnig beter word

Potjie

Vir iemand wat so iets doen is daar nie genade nie. Gewentenlose uitvaagsel. Sulke dinge maak dat ñ aap sy ma byt!

Dirk

Wat gaan in Bloemfontein aan dat diere , veral honde so mishandel word?

Spykie

Ja ons almal glo natuurlik nie die storie van die hout nie. Waar hulle is sal daar nie hout rondle om bymekaar te maak nie. Hulle het aangejaag en die arme Spike het daaronder gely. Ek hoop julle vind daai uniform.