Hond vol motorolie al effe sterker

Oliver is verlede week brandmaer in ou blik vol motorolie by die DBV afgelaai. (Foto: Facebook)

Hoewel Oliver, die hondjie wat onlangs vol motorolie by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se tak in Boksburg afgelaai is, nou met ’n vol maag gaan slaap, is hy steeds bang en depressief.

Só sê Victoria Finnemore, ʼn senior inspekteur by die DBV, nadat sy dié hondjie vanoggend by die veearts besoek het.

Maroela Media het vroeër berig dat die eienaar van dié worshondhondkruising hom verlede week brandmaer in ou blik vol motorolie by die DBV afgelaai het. Hy wou die dier nie meer hê nie.

Oliver, soos hy sedertdien gedoop is, moes onder meer binneaarse voeding ontvang om hom vir bloedarmoede te behandel en hy is vier keer op een dag gebad om die olie te probeer afwas.

“Ons kan bevestig dat Oliver steeds in sy komberse opgekrul is en elke happie kos in sy bak geniet.

Oliver verkies om in sy bed langs ʼn verwarmer te lê. (Foto: Facebook)

“Hy is egter depressief en sy immuunstelsel is aangetas. Hy deins verskrik terug as iemand naby aan hom kom en ons sal daaraan moet werk om sy vrees vir interaksie met mense te oorkom,” sê Finnemore.

Hoewel mense dalk nog Oliver se vertroue moet wen, sê Finnemore dat hy reeds die harte van kantoorpersoneel gesteel het.

“Elke keer as iemand by sy bed verbystap, word hy vertroetel.”

Finnemore sê Oliver het Maandag ʼn ruk lank in die son gesit, maar hy verkies dit steeds om in sy bed langs ʼn verwarmer te lê.

“Hy vorder stadig, maar ons is vol hoop dat hy volkome sal herstel.

“Uit die skenkings wat ons ontvang het, kon ons die beste kos vir Oliver aankoop en ons veeartse werk onverpoos om hom te help,” sê sy.

Honderde mense volg tans dié brawe brakkie se storie op die DBV se Facebook-blad en talle het reeds aangedui dat hulle Oliver graag sal wil aanneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Genis ·

Die vrees in daai gesigie spreek boekdele… Somige kreatiere (want dis nie mense) weet nie wat hulle aan diere doen nie… Net bly die hondekind is gered, en sterk aan…

Raakvatter ·

Worsies het maar sulke hartseer gesiggies, ek het 2. Maar die wit wat onder sy ogies uitsteek is hartseer. Sal hom ook met liefde aanneem.

Charles ·

Hoekom is Oliver se eienaar wat hom by die DBV in die blik motorolie afgelaai het, nie aangekla van dieremishandeling nie?

Mari ·

Stem volkome saam! Daar moes op die daat opgetree wees, al is dit ook wie! Ons kan nie dan mense hiermee wegkom nie – dis verskriklik hoe die diertjie mishandel was, kan dit in sy ou gesiggie sien …. Sad!!

Karina ·

Charles jy slaan die spyker op die kop, dit is ‘n vraag wat my ook baie pla.

Patch ·

Miskien is die hondjie net daar voor die deur/hek afgelaai sonder dat die DBV weet wie dit was. Ek sal hom ook ‘n liefdevolle huis wil ge.

Pandora ·

So dankbaar vir hierdie mense se onverpoosde goedheid en diensbaarheid om die diere wat nie stemme het nie, by te staan wanneer mense hulle so gruwelooslik faal. Word sterk Oliver – ons stem vir jou herstel en hou jou dop.

Snowball ·

Soveel hartseer lanklaas in ‘n hondekind se ou gesiggie gesien.

JM ·

Ounooi se honne! Is só dankbaar dat hy nou mooi versorg word.

Celeste ·

Dis vreeslik om so hondtjie reg te kry. Ons het 4 klein hondtjies waarvan twee “rescue”hondtjies is. Een was so bang en het almal gebyt. Sy ribbetjie was gebreek, Hy het onder die motors gele en ons moes hom behoorlik smeek om uit te kom, was ook nog nooit gebad nie en nooit geskeer nie, hy het verskriklik gelyk. Eers toe ons hom laat skeer en bad sien ons dis n pikanese. 9 maande later en hy slaap in sy mandtjie, geniet n bad en is nie meer so bang nie. Honde (diere) vergeet nie wat mense aan hulle doen nie, dit kom reg na n lang tyd maar die vrees is maar nogsteeds by hulle. En dit was n dominee se hond

Vanessa ·

Ek wil hom sommer opvreet, kyk daai pragtige ou ogies. Gelukkig is hy nie dood gemaak nie. Ek weet nie waarom mense diere aanhou as hulle nie vir hulle kan sorg en liefde gee nie. Baie dankie vir die DBV wat uit hulle pad gaan om sy lewetjie beter te maak.

Margaret ·

Ai, daardie hartseer bang gesiggie. Hoe kan mense so wreed wees?

virginia ·

Dit is so hartseer om hom so te sien . Maroela hou ons asb ophoogte van sy vordering. Hoop van harte hy kry n wonderlike pappa en mamma wat mooi na hom sal omsien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.