Hond wat oog verloor in rusie vorder goed

Rusty na sy oogoperasie (Foto: Bloemfontein SPCA)

WAARSKUWING: Die berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Dit gaan al baie beter met Rusty, die hond wat erg vermink is toe hy sy eienaar teen haar kêrel probeer beskerm het.

Soos vroeër berig het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein op 12 Desember ʼn oproep ontvang van Rusty se eienaar oor dié vierpotige wat deur haar vriend mishandel is.

Tydens die inspekteurs se besoek aan haar huis in die Bloemfonteinse voorstad Batho, het hulle Rusty in ʼn baie slegte toestand aangetref. Sy linkeroog het heeltemal uit sy oogkas gehang.

Die vrou het tydens die besoek aan die inspekteurs gesê dat haar vriend oor naweke drink en wanneer hy dan terugkeer huis toe en ongelukkig is oor iets, hy sy frustrasies op haar uithaal.

Sy het verder gesê dat haar vriend die vorige naweek kwaad was en haar aangerand het. Rusty het haar glo tydens dié voorval probeer beskerm, waarna die man glo sy woede tot die hond gerig het. Hy het Rusty geslaan en geskop en sy het hom probeer stop, maar hy het net aangehou. Sy sê sy was bang dat hy Rusty sou doodmaak. Toe sy Rusty wou help, het hy haar weer geslaan en weggestamp.

Rusty het behalwe vir sy verminkte oog ook ʼn skeur onder sy bek en talle kneusplekke op sy lyf opgedoen. Hy kon ook skaars loop en is in die DBV se sorg geplaas.

Rusty se linkeroog het heeltemal uit die oogkas gehang (Foto: Bloemfontein SPCA, Facebook)IN

ʼn Veearts het verlede Maandag sy oog verwyder en Rusty kan intussen al op drie van sy pote loop, maar sukkel nog om op een agterpoot te trap.

Reinet Meyer, senior inspekteur by die DBV, het aan Maroela Media gesê dat Rusty oor die algemeen baie meer positief en lewendig lyk.

“Hy lyk sommer baie gelukkiger noudat hy veilig is,” sê Meyer.

X-strale het intussen gewys dat Rusty ʼn gebreekte heup het en nog ʼn operasie sal moet ondergaan.

“Hierdie operasie gaan ʼn moeilike een wees. Sy pelvis is erg beskadig weens die vriend wat hom so geskop en gegooi het.

“Ons veearts glo dat Rusty ten volle sal herstel. Dan sal ons hom vir aanneming beskikbaar kan stel.”

Die DBV het lede van die publiek bedank wat reeds skenkings gedoen het en vra nog skenkings vir Rusty se mediese behandeling en die komende operasie, wat nagenoeg R9 000 gaan kos. Klik hier vir meer inligting oor hoe jy kan help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.