Honda-modelle herroep

Honda Civic 1.5T Sport (Foto: Facebook)

Honda Suid-Afrika het vandeesweek aangekondig dat sekere van die vervaardiger se voertuigmodelle herroep word weens vrese rakende die veiligheid van dié voertuie se lugsakke.

Die motorreus sê in ʼn inligtingstuk op sy webwerf dat hy in ooreenstemming met ʼn wêreldwye herroepingsveldtog begin het om lugsakke te vervang in sommige van sy voertuie wat in Suid-Afrika verkoop is. “Tot dusver is daar nog geen voorvalle aangemeld weens gebrekkige lugsakke in die Suid-Afrikaanse mark nie,” lui die verklaring.

“Let ook asseblief daarop dat daar geen risiko bestaan dat die bestuurders- of passasierslugsak in jou voertuig onbedoeld sal ontplooi nie. Die enigste kommer is slegs rakende voorvalle waar die voertuig betrokke is by ʼn trefslag wat voldoende is om die lugsakke te laat ontplooi.”

Honda het herhaal dat die veiligheid en gehalte van sy produkte een van sy topprioriteite is.

Van die Honda-modelle wat deur die veldtog geraak word, sluit in die Honda Freed van 2013, die Honda Jazz van 2002 tot 2014, die Honda Insight van 2010 tot 2012, die Honda FR-V van 2005 tot 2009, die Honda CR-V van 2002 tot 2012 en die Honda Civic van 2001 tot 2011.

Klik hier vir ʼn volledige lys van Honda-modelle wat geraak word.

Tree met Honda in verbinding by [email protected] of 031 000 0473 vir navrae of meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Danie ·

Nog ‘n maatskappy wat ‘n voorbeeld vir Ford stel. Jy wag nie totdat ‘n klomp mense sterf voordat jy ondersoek instel nie. En as dit op die ou end blyk dat dit net swak bestuurders is dan sorg jy dat almal wat sekere voertuie bestuur, geleer word hoe om te bestuur.

Ander kan dit groot skade aan jou reputasie aanrig.

Ironies ·

Ford is ‘n babatjie teen Toyota. 2009—Toyota het ‘n boete van $1.2 B betaal oor versnellers wat vasgehak het. Daar is beweer 90 mense is dood in agv petrol pedale wat vashak. Google “Toyota Accelerator Scandal” Ek wonder hoeveel hilux manne is al dood oor bakkies wat rol???

Vraagteken ·

Ironies, jy mis die punt en haal alles buite perspektief uit. Ford het alles ontken en was selfs bereid om teen hulle kliente in die hof te baklei.

Toyota het geweet van die probleem, maar omdat hulle soveel van die voertuie verkoop het, kon hulle nie in tyd aandag aan almal gee nie.

Terloops, hierdie probleem is nie eintlik a.g.v. Honda se onvermoë nie. Die lugsak tegnologie, wat deur takata vervaardig word, was geimplimenteer in Mazda’s, Toyota’s en selfs jou geliefde FORD vervaardiger ook.

Ironies ·

Vraagteken. Gaan lees weer. Toyota het dit vir lank ontken en weggesteek. Dis die rede vir die grootste boete in die motor geskiedenis. Hoekom word ander vervaardigers nie beboet oor re-calls nie?? Slegs as jy lieg en goed wegsteek en mense gaan dood dan gebeur dit soos met toyota.

Haal aan—Toyota admitted it lied when it told both the public and US safety regulators in 2009 that it had addressed the root cause of the problem by fixing floor mats that could trap the accelerator.

Vraagteken ·

Jammer Toyota, ek het probeer opkom vir julle. Maar Ironies se debat is beter as myne uitgevoer :):):).

TvdM ·

Ironies genoeg Danie, was die eerste sterfte in 2009 a.gv. ‘n lugsak in ‘n Honda Accord en die laaste geval in 2017 in ‘n Honda Civic.

LB S ·

Ons Honda Jazz se lugsakke is ongeveer twee jaar gelede al vervang nadat dit herroep is. Hierdie is dus ou nuus.

Frik du Plessis ·

Ek ry ‘n 2008 Honda Jazz en die lugsakke is ses weke gelede gratis vervang na aanleiding dat my model voertuig se lugsakke teruggeroep is.
Is die berig nou ou nuus of moet ek weer my voertuig invat vir die lugsakke?

Hennie ·

Viva vir Honda bestuur, hulle is altyd pro aktief en produseer gehalte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.