Honde in kratte by grenspos nié gesteel

Die twee kratte waarin die honde was (Foto: Nelspruit SPCA)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het troeteldiereienaars gemaan om seker te maak van die nodige regulasies wanneer hulle met hul geliefde vierpotiges oor die grens verhuis.

Dit volg nadat vier honde uit kratte by die Lebombo-grenspos gered is nadat hul eienaar van Mosambiek na Suid-Afrika verhuis het en nie die regte regulasies gevolg het om haar honde oor die grens te kry nie.

Die honde is deur staatsveeartse ondersoek en daar word nou gewag op verdere aanwysings oor hul lot.

Volgens die DBV in Nelspruit het die eienaar van die honde hulle verlede Donderdag genader en gesê dat sy iemand betaal het om haar honde vir haar oor die grens te vervoer.

Met die vrou se aankoms by die grenspos om haar honde te kry, het die man glo nog geld van haar geëis, wat sy in daardie stadium nie kon betaal nie. Die man het toe die honde by ʼn taxi-staanplek aan die Mosambiekse kant van die grens gelos.

Doeanebeamptes en polisie by die grens het die honde in hul sorg geneem en toe dadelik die DBV in kennis gestel. Die polisie het aanvanklik gedink die honde is gesteel en dat iemand hulle oor die grens in die land wou insmokkel.

“Ons het die doeanebeamptes en polisie gevra om die honde deur die aand kos en water te gee, maar hulle kon nie die kratte, wat steeds gesluit was, oopkry nie. Hulle was ook te bang om die honde vry te laat,” sê Lize Pienaar, inspekteur verbonde aan die DBV in Nelspruit.

Die kratte was volgens die DBV-inspekteur nie volgens standaard nie (Foto: Nelspruit SPCA)

Pienaar het dadelik saam met Kelleigh Prins, inspekteur by die DBV in Witrivier, na die grenspos gegaan om die honde te help. Hul grootste bekommernis was dat die diere sou ontwater.

Volgens Pienaar was die twee kratte waarin die honde was in ʼn onaanvaarbare toestand.

Dié inspekteurs het die kratte se slotte gebreek en vir die honde water gegee. “Hulle kon nie ophou drink nie.”

Pienaar vertel toe hulle die honde na hul voertuig geneem het, het een van dié uitgehongerde honde probeer klippe eet.

Die honde was honger en dors (Foto: Nelspruit SPCA)

Die honde is toe vir die aand in die sorg van die DBV geplaas. Volgens Pienaar was hulle in ʼn slegte toestand.

Die eienaar het die DBV daarna genader en bevestig dat die honde nie gesteel is nie.

“Daar was geen permitte nie en die honde is nie toegelaat om via die Lebombo-grenspos vervoer te word nie. Die honde moes na die OR Tambo-lughawe gevlieg geword waar hulle dan vir 14 dae in kwarantyn geplaas moes word. Die nodige regulasies is nie nagekom nie.”

Die DBV versoek mense om seker te maak van die nodige regulasies.

“Daar is verskillende regulasies en vereistes vir verskillende lande, en as dit nie nagekom word nie, gaan die diere aan die genade van vreemdelinge oorgelaat word. Dit kon soveel erger vir hierdie weerlose diere uitgedraai het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.