Honde-kinders dood toe swerm bye toesak

Diablo, Tracy en Gemini (Foto: Facebook)

’n Egpaar van Kakamas in die Noord-Kaap het al drie hul geliefde honde verloor nadat werkers van die plaaslike munisipaliteit vermoedelik ’n byenes versteur en die bye op hul honde toegesak het.

Die voorval het verlede Dinsdag plaasgevind. Die egpaar se twee pitbullterriërs en hul rottweiler was almal teen die volgende dag dood, vertel Bianca Botha vandeesweek aan Maroela Media.

Botha verduidelik dat daar oorkant hul huis op Kakamas ’n stuk grond geleë is met ’n gebou wat per geleentheid as ’n kerk gebruik word. Langs dié gebou is ’n septiese tenk geleë, waarin ’n swerm afrika-moordbye nesgemaak het. Dié soort bye is uiters gevaarlik omdat hulle glo baie verdedigend is wanneer hulle versteur word en ook vinniger reageer op versteurings as ander soorte bye.

Sy vertel dat munisipale werkers die betrokke dag aan die septiese tenk gewerk en vermoedelik die byenes versteur het. Botha en haar man was in dié stadium by die werk.

Die Botha’s se honde. (Foto: Facebook)

Die swerm bye het na die Bothas se erf beweeg, waar hulle op die egpaar se twee pitbullterriërs, Diablo en Tracy, en hul rottweiler, Gemini, toegesak het.

“Die bure het besef iets is fout, oor die muur gekyk en gesien die honde word aangeval. Hul kinders het toe oor die muur gespring,” vertel Botha.

Volgens Botha kon hulle daarin slaag om die drie honde oor die muur te tel, waarna hulle na ’n veearts gejaag is. Botha se man het haar intussen van die aanval in kennis gestel en sy het die honde by die veearts gekry. Tracy, die egpaar se jongste pitbullterriër, het in dié stadium baie sleg gelyk en is op ’n drup geplaas.

Botha kon vir Diablo en Gemini huis toe neem, maar Tracy moes weens haar toestand by die veearts agterbly. Sy is later by die veearts dood.

Diablo by die veearts ná die bye-aanval. (Foto: Verskaf)

“Ons was seker ’n uur en ’n half by die huis toe Diablo begin bloei het. Ons is terug veearts toe waar hy op ’n drup en onder verdowing geplaas is. Diablo het nooit wakker geword nie,” vertel Botha. Volgens die veearts is Diablo dood aan anafilaktiese skok.

Hoewel Botha aanvanklik gedink het dat Gemini sou deurtrek, het dié hond ook teen die volgende oggend baie sleg gelyk. Botha het die veearts gebel wat voorgestel het dat Botha die hond dophou. Teen die middag het Gemini ook begin bloei en sy is terug veearts toe waar sy later dood is.

“Dit was ’n chaotiese week [verlede week]. Die trane het behoorlik gevloei. Ons het nie kinders nie. Die honde was ons kinders en nou sit ons met ’n veeartsrekening van duisende rande, sonder enige honde. Dit maak dit net soveel erger,” vertel Botha.

Volgens haar het haar man die munisipaliteit genader om hulle in kennis te stel van die byenes. ’n Munisipale werker het in ’n boodskap aan haar man erken dat hulle aan die septiese tenk gewerk het. Toe Botha se man egter die betrokke werker vra wat betreffende die byenes gedoen gaan word, het dié nie weer op sy boodskappe reageer nie.

“Ek wil niemand blameer nie. Dit is die natuur. Maar wat as kinders volgende keer gesteek word?” sê Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Carina ·

Dit is sooo verskriklik hartseer, ek kan my nie die pyn indink waarin julle nou moet wees nie. Ek sal self iets oorkom as my honde kinders so iets moet oorkom. Sterkte aan julle, dit was 3 pragtige kinders.

Genis ·

Dis verskriklik… ons honed is ook kinders.. dis so onnodig… sterkte aan julle…

sopbeen ·

Aggenee. Kyk net daai mooi vriendelikke gesiggies met blink ogies. Hul is baie lief vir die persoon agter die lens. Sterkte

Claudette ·

Dit is so hartseer, my innige simpatie aan die familie. So hartseer om al jou diere kinders so te verloor. Ek voel die stadsraad moet ‘n gedeelte vd rekening betaal

Termiet ·

Baie jammer om te hoor. Hulle bring soveel vreugde en liefde in ‘n mens se lewe.

TRP ·

Ag nee genade dit is so seer om te lees, ek is so jammer. Ons raak so vreeslik lief vir ons honde en sien hulle nie as honde maar kinders so die seer is soos om ‘n kind te verloor. Wens ek kon dit beter maak. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.