Honde laat misdadigers les opsê

Spartan is deel van die Kaapse metropolisie se honde-eenheid. (Foto: Verskaf)

Die brawe brakkies van die Kaapse metropolisie se honde-eenheid het hulself die afgelope paar maande goed van hul taak gekwyt.

Dít nadat meer as 200 misdadigers sedert Julie verlede jaar met behulp van die honde-eenheid vasgetrek is. Boonop is duisende rande en ʼn magdom dwelms deur dié honde uitgesnuffel.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê oor die afgelope nege maande het die honde-eenheid altesaam 226 verdagtes help vastrek, meer as 5 300 eenhede dwelms en kontant ter waarde van byna R43 000 teruggevind.

Gedurende hierdie tyd is vier vuurwapens, vier nagemaakte wapens, 17 patrone en agt gesteelde voertuie teruggevind.

In een van die jongste suksesverhale het ʼn hond genaamd Spartan die polisie na ʼn voorraad tik- en mandrax-dwelms, asook ʼn vuurwapen in ʼn stoorkas in Ottery gelei. Hierdie dwelms het ʼn geraamde straatwaarde van R350 000.

Spartan kon dié dwelms opspoor te danke aan ʼn anonieme wenk van ʼn lid van die publiek.

Honderde duisende rande se dwelms is in Ottery opgespoor. (Foto: Verskaf)

Beamptes verbonde aan die honde-eenheid het ook op 8 Maart ʼn gesteelde voertuig in Grassy Park opgespoor en twee verdagtes in hegtenis geneem.

Verlede maand het die hond Kai ook heroïen, tik en mandrax gevind wat in die staalraam van ʼn kombuistafel by ʼn huis in Heideveld versteek was. Dít terwyl Xena en Savage die polisie vroeër vanjaar na dwelms met ʼn geraamde straatwaarde van R60 000 gelei het.

“Die vlak van opleiding wat hulle ondergaan, is indrukwekkend, asook hul vermoë om smokkelary uit te snuffel,” sê Smith.

“Die afgelope paar jaar het sommige misdadigers uiters kreatief geword met hul wegkruipplekke, maar dit blyk meestal geen uitdaging vir ons onverskrokke polisiehonde te wees nie.”

Afgesien van die honde se pligte om misdadigers vas te trek, hou die honde-eenheid ook openbare veiligheid- en bewusmakingsvertonings by skole.

Dié vertonings is eindelik weer in Januarie hervat nadat dit vir byna twee jaar weens die Covid-19-pandemie onderbreek is.

“Ons is baie bly dat die eenheid weer dié belangrike deel van hul werk kan hervat,” sê Smith.

“Die honde voeg geweldig baie waarde tot ons pogings toe om gemeenskappe veiliger te maak en dit is ʼn plesier om hulle in aksie te sien.”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Philip ·

Intelligende Honderas die Wolfies dit breek n mens se hart as jy hom na 13/15 jaar moet laat uitsit agv siektes.Na soveel jare mis ek ou Bruno tot vandag toe nog alhoewel ek al verskeie ander honderasse gehad het.

Chris ·

Ek het nie meer ‘n hond nie. My hond is sowat 6 jaar gelede dood. Ek wil nie weer ‘n hond hê nie. Sy het met my kop gesmokkel. Sy het met my gedoen wat sy wil. Sy het my altyd met waardigheid behandel. Sy was altyd bly om my te sien, en het haar dankbaarheid openlik te kenne gegee. Ek het haar van die sypaadjie af opgetel. Sy het my onvoorwaardelik met al my foute en tekortkominge liefgehad. Sy was my hond/mensevriend/aanhanger en skaduwee. Ek “huil” vandag steeds, saggies in myself binnetoe oor my hond.

Voilet ·

Snaaks dat hul nie ook beagles gebruik nie. Hul neuse is net so goed om te snuf. Trots op jul woefwe. Hou so aan xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.