Honde vergiftig, bakkie gesteel in Fouriesburg

Argieffoto: Kent Williamson

Verskeie voorvalle van misdaad is vroeër die week in Fouriesburg in die Vrystaat by die polisie aangemeld. Vyf honde is op een aand by twee woonhuise vergiftig.

Kapt. Zweli Mohobeleli, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn wit Isuzu met die registrasienommer FPK 081 FS is gesteel. Die voorval het tussen Maandagaand en Dinsdagoggend plaasgevind.

“Die eienaar het Dinsdagoggend vroeg besef sy voertuig is weg en drie van sy honde is dood. Hulle is glo vergiftig,” het Mohobeleli gesê.

Volgens Mohobeleli is daar slegs ʼn paar strate verder met nog ʼn wit Isuzu se aansluiter gepeuter. Dié voertuig is nie gesteel nie.

“By ʼn derde huis is daar nóg twee honde dood aangetref,” het Mohobeleli gesê.

Sake van diefstal, poging tot diefstal en opsetlike beskadiging van privaateiendom is aanhangig gemaak en word ondersoek.

Die polisie het enigiemand met inligting oor die voorvalle gevra om die polisie by 082 466 7649 of 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Susan ·

En vir wie moet jy nou aankla van vergiftiging? Rustenburg word honde daagiks vergiftig. Huise word dag en nag oopgebreek! Jou persoonlike besittings word gevat. Jou binneste is moeg. Jy as mens is uitgeput van slaaplose nagte agv van bewegings om jou! Alarms skreeu. Honde wat blaf. Skote en ook klappers ! Ontpoffing..en jy weet iewers het ñ ATM gegroet. Winkels word ingebreek. Jy en ñ span Cpf en RCCF se selfone , ore en oe werk. Fouriesburg is bevoorreg.. julle aanval bereik koerant. Soms bereik Rustenburg die koerant na so aanval. Dit raak net erger!

JK ·

‘n Ruk gelede was honde vergiftig op die Wesrand in Johannesburg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.