Hondekinders steeds soek

Panga en Unja (Foto: Verskaf)

Die rottweiler en bulhond wat twee weke gelede in twee afsonderlike voorvalle vermis geraak het, se eienaars het nou alles van vliegtuie tot hondekommunikeerders ingespan om na die honde te help soek.

Spoorsnyers, hommeltuie en ’n ligte vliegtuig is die afgelope weke op ’n plaas in die Sutherland-omgewing ingespan om na die vermiste rottweiler Panga te soek. Al het spoorsnyers intussen op luiperdspore afkom, bly dié vierpotige se eienaar steeds hoopvol dat hy nog lewe.

Panga en sy sussie Unja, ook ’n rottweiler, is meer as twee weke gelede in die vroeë oggendure uit die huis gelaat om ’n draai te gaan loop. Unja het egter later verskrik en sonder Panga by die huis aangekom. Daar word sedertdien onverpoos na Panga gesoek.

Na Panga se verdwyning het sy eienaar, Ada Cloete, ’n plasing oor Panga se verdwyning op die Facebookblad Rottweilers South Africa gemaak. Die groep se lede het ingespring en begin geld insamel om na hom te soek. ’n Hommeltuig is ingespan en toe dié niks oplewer nie, het die lede ’n plan gemaak en ’n ligte vliegtuig vir die Cloetes gereël om na Panga te soek.

ʼn Beloning van R10 000 is ook intussen aangebied vir inligting wat tot Panga se opsporing kan lei.

Spoorsnyers het Dinsdag na die plaas uitgegaan om te help soek. Volgens Cloete het hulle luiperdspore by een van die leë plaashuise aan die grens van die Cloetes se plaas gevind.

“Die volgende oomblik het ʼn groot, jong luiperdmannetjie voor hulle gestaan,” vertel Cloete.

Cloete het aanvanklik gevrees dat ’n luiperd Panga moontlik gevang het. Sy sê alhoewel hulle nou op hierdie luiperdmannetjie afgekom het, is dit steeds nie ’n uitgemaakte saak dat die luiperd Panga gevang het nie.

Maryke Muller by haar geliefde Ava. (Foto: Verskaf)

“Panga kon dalk so groot geskrik het dat hy nou nie weet waar hy homself bevind nie.”

Cloete sê nog drie hommeltuie word vandag (Vrydag) ingespan om met die soektog te help. Sy gaan ook saam met Henk Oosthuizen, ’n vlieënier van Durbanville, vlieg om die plaas uit die lug te fynkam.

Maroela Media het ook vroeër berig oor Maryke Muller van Douglas in die Noord-Kaap wat op soek is na haar geliefde Engelse bulhond Ava (4). Dié het op Valentynsdag vermis geraak. Ava het op die dag uit haar erf in Douglas verdwyn en is sedertdien nog nie met ’n oog gesien nie.

Muller het aanvanklik ’n R10 000-beloning uitgeloof vir enigiemand wat Ava veilig aan haar kan terugbesorg. Sy het dié bedrag nou opgestoot tot R15 000. Sy het ook ’n hondekommunikeerder gekry om te help om Ava op te spoor. Dié tree na bewering op een of ander manier met die vermiste hond in verbinding.

“Wat ons sover van die kommunikeerder kan aflei, is dat Ava iewers in Douglas is,” vertel Muller.

Muller soek sedert Ava se verdwyning onverpoos na haar. Sy is vol moed dat hulle haar gaan kry.

“Ek is gebreek. Ava is soos my kind. Ek wil haar nou net terughê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Genis ·

Ai ek hoop van harte dat hulle opgespoor word… dis baie hartseer

Anel ·

Ag, asseblief! Hondekomunikeerder! Kry die tipe mense nie skaam om die honde eienaars so uit te buit nie? Hoop julle albei kry julle hondekinders veilig terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.