ʼn 46-jarige man is Maandagaand by ʼn hotel in Bedfordview, oos van Johannesburg, in hegtenis geneem nadat hy betrap is met nagenoeg 7 000 Mandrax-tablette wat hy in verseëlde hondekossakke versteek het.
Kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die polisie het ʼn wenk ontvang van dwelmhandel in die gebied. “Beamptes het die parkeergebied van die hotel dopgehou en omstreeks 22:00 ʼn verdagte BWM opgemerk wat daar opgedaag het,” het Kweza gesê.
“Die beamptes het op die bestuurder toegeslaan en die motor deursoek. Hulle het twee groot sakke hondekos gevind wat verseël was. Binne dié sakke was sewe kleiner sakke met sowat 1 000 tablette in elk.”
Die man het die polisie na sy huis in Walkerville geneem waar chemikalieë en toerusting gevind is om Mandrax te vervaardig.
Die man moet binnekort in die hof verskyn op aanklag van die besit van dwelms.
Goeie werk laat hom al daardie pille eet
Ek stem saam Irene laat hy al daai pille eet want hoeveel jong mense se lewens sou hy vernietig het met daai dwelms.