Honderde babas op Nuwejaarsdag gebore

Baba Kelsey se voetjies. (Foto: Instagram)

Honderde ouerpare het Woensdag die nuwe jaar ingegaan met ʼn splinternuwe bondeltjie vreugde in hul arms, nadat meer as 800 babas op Nuwejaarsdag in Gauteng, KwaZulu-Natal, Noordwes en die Wes-Kaap gebore is.

Dokters in Gauteng het die meeste babas gevang: 531 babas is in staatshospitale in dié provinsie gebore, waarvan 280 meisies en 251 seuns is. Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, het nuwe ma’s gelukgewens en die belang van borsvoeding beklemtoon, veral in die eerste ses maande van die kind se lewe. “Danksy borsvoeding ontvang die kind die nodige voedingstowwe en is hy of sy beter bestand teen siektes in die eerste paar maande van sy of haar lewe,” sê Masuku.

In KwaZulu-Natal was ʼn 14-jarige een van 95 ma’s wat op 1 Januarie vanjaar geboorte geskenk het. Die provinsiale departement van gesondheid het juis op Kersdag gewaarsku dat mans wat omgang met meisies onder die ouderdom van 16 het, van statutêre verkragting aangekla kan word.

Die eerste Nuwejaarsbaba in KwaZulu-Natal is om middernag in die Ladysmith-hospitaal gebore. Altesaam 47 seuns en 48 meisies is Woensdag in dié provinsie gebore.

Altesaam 142 babas is op Nuwejaarsdag in staatshospitale in Noordwes gebore. Tebogo Lekgethwane, woordvoerder vir Noordwes se gesondheidsdepartement, sê 69 hiervan was seuns en 73 meisies. Die Bojanala-distrik in die Rustenburg-omgewing het die meeste geboortes geregistreer.  Altesaam 42 babas is hiér gebore, waarvan 27 seuns en 15 meisies is.

Teen Woensdag 12:00 is 58 babas in die Wes-Kaap gebore. Die eerste baba van die nuwe jaar in dié provinsie, ʼn seun, is in die Mowbray-kraamhospitaal gebore.

“Ons wens hierdie nuwe ma’s geluk en beklemtoon dat die eerste 1 000 dae van ʼn kind se lewe uiters belangrik is. Voorsien hierdie kinders van ʼn veilige omgewing en goeie voeding,” het prof. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.