Honderde bokse onwettige sigarette op Zim-grens gevind

SAPD, Musina, Beitbrug, polisie, misdaad, onwettige sigarette

Van die onwettige sigarette waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SAPD, Limpopo)

Die polisie in Limpopo het oor die naweek, as deel van ’n misdaadbekampingsveldtog, beslag gelê op onwettige sigarette naby die Beitbrug-grenspos.

Volgens kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, was die sigarette versteek in die bosse langs die Pontdrif-pad buite die grensdorp Musina.

Die waarde van die sigarette word geraam op sowat R116 766. ʼn Taakspan, wat die naweek deel gevorm het van die Vala Umgodi-teenmisdaadoperasie, het ʼn wenk ontvang dat ʼn blou Toyota Tazz ʼn besending onwettige sigarette vervoer.

Die span het die motor probeer agtervolg, maar die bestuurders kon daarin slaag om die span te ontduik. In die soektog het die span afgekom op sowat 260 kartondose vol verskillende make onwettige sigarette.

Die kartondose was in die bosse versteek.

Verder het die span ook beslag gelê op ʼn onwettige skuit wat vermoedelik gebruik is om nagemaakte goedere oor die grens tussen Zimbabwe en Suid-Afrika te smokkel.

Volgens Ledwaba is daar besluit om die skuit te vernietig deur dit aan die brand te steek.

In die res van die provinsie het die Vala Umgodi-operasie ook sukses behaal toe ʼn 41-jarige verdagte, wat glo met dagga handel gedryf het, in hegtenis geneem is.

Volgens Ledwaba is die verdagte in ʼn swart Volkswagen Citi Golf opgemerk by ʼn deursoekingspunt langs die R529-pad naby Letsitele in die Mopani-distrik.

In die voertuig was daar glo dagga, verpak in ʼn swart plastieksak, waarop daar beslag gelê is. Die waarde van die dagga word op R6 680 geraam.

In Modimolle is ʼn 49-jarige onwettige immigrant in hegtenis geneem na daar glo bewyse gevind is dat hy onwettige sigarette en besmette goedere in sy spaza-winkel verkoop het. Die polisie het ook hier 11 mans, tussen die ouderdomme van 18 en 46, in hegtenis geneem wat die Immigrasiewet oortree het.

Hulle is, volgens Ledwaba, oorhandig aan die departement van binnelandse sake sodat hulle gedeporteer kan word.

Die ander verdagtes sal almal deur die loop van die week in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

domheks ·

Vandag gedoporteer, more terug om verder op die melk en heuning land te teer.

Willem ·

Ek wens die polisie wil op hierdie Pakistaanse winkels toeslaan. Hulle verkoop baie onwettige goed. Hier in ons dorp is meer as 10

koos10 ·

Hierdie is ‘n direkte gevolg van die COVID beperings op die verkoop van sigarette en die regering se aanhoudende verhiging van belasting op sigarette.

SjN ·

Net nog n misdaadhool wat oorspoel danksy wetteloosheid, een word gevang maar klomp gaan deur.

Casper ·

Ek hoop die sigarette en dagga word ook verbrand anders gaan dit voete kry.

Anel ·

Willem, ek stem saam met jou. Orals waar ander winkels toe maak, maak die pakistanies winkels oop. Gewoonlik is dit nie hulle self nie maar bestuur hulle net vir ‘n ander een. Wat vir my die ergste is, die spul kom hierheen en maak onwettige winkels oop en doen net wat hulle wil. Laat van ons mense dieselfde in hulle lande probeer en kyk waar beland jy!!!

Zandra ·

hierdie pakkie winkels maak my baie bang
dit voel of hulle survalance cameras is
ek weet hulle wil ‘n lewe maak maar wat as hulle ‘n plan het om ons
klein volkie van die baan af te druk?
hoop die wat gedeport is kom nooit weer terug nie
ek wens die mense wil ophou om daai gemors te rook hulle besef nie die cheap goed is maar ‘n stadige selfdood
die arme dagga ek gaan niks daaroor sê dis seker kla weer op straat

Misky ·

`n Tazz sit hulle ore aan. Ha ha ha ha, watse voertuig ry daai lede van die “taakspan”?

annie ·

Ja Piet… Om spaarsamig verbrand te word. Eskom het die rokers mos mooi geleer… en Covid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.