Honderde bring hulde aan Cradock-juffrou

Theresa Buys in haar klaskamer voor sy vermis geraak het. Foto: Verskaf

Theresa Buys in haar klaskamer voor sy vermis geraak het. Foto: Verskaf

Nagenoeg 300 mense het Maandagoggend hulde gebring aan Theresa Buys (43) van Cradock in die Oos-Kaap, twee weke nadat sy onder raaiselagtige omstandighede verdwyn het.

“Onder omstandighede het die diens baie goed gegaan. Dis was ʼn informele huldeblyk aan Theresa,” het Elmar Heese, die skoolhoof van die Voorbereidingskool Cradock waar Buys sedert die begin van die jaar kunsklasse aanbied, aan Maroela Media gesê.

'n Kaartjie wat een van Buys se leerlinge vir haar gemaak het.

‘n Kaartjie wat een van Buys se leerlinge vir haar gemaak het.

ʼn Herdenkingsdiens is Maandag vir Buys by die skool gehou, al is haar liggaam nog soek. Die polisie vermoed dat sy vermoor is, en dat haar liggaam in die Visrivier gestort is.

“Theresa se familie, skoonfamilie, dogter en man was saam met inwoners van die gebied hier. Die skoolkoor het opgetree waarna verskeie mense wie se harte sy aangeraak het, huldeblyke gelewer het. Sy was ʼn groot ondersteuner van die plaaslike DBV en ʼn beampte van die tak het ook hulde aan haar gebring. Haar ma het met die bedankings afgesluit.”

Heese sê polisiebeamptes het ook die diens bygewoon en het direk ná die verrigtinge hul soektog na haar liggaam voortgesit.

Kapt. Stefanie Smith, ʼn woordvoerder van die polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die amper twee week lange soektog na Buys se liggaam het nog niks opgelewer nie. Smith sê die soektog gaan egter onverpoosd voort.

Intussen is Buys se vermeende moordenaar, Marius Isaacs (25), Maandag in die dorp se landdroshof borg geweier.

“Sy saak is tot 17 September uitgestel vir verdere ondersoek, hy bly in die polisie se aanhouding tot dan,” het Smith gesê.

Buys is op 4 Augustus vir die laaste keer gesien toe sy die skool verlaat het. Sy woon alleen in ʼn huis op ʼn plaas wat sy by ʼn boer in die omgewing huur.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat haar buurvrou die dag daarna ʼn plas bloed in Buys se huis opgemerk het. Die Cradock-polisie het op 6 Augustus Buys se voertuig verlate in die Michausdal-woonbuurt opgespoor. Die polisie het Isaacs kort daarna in hegtenis geneem. Hy is glo ʼn werker op die plaas waar Buys woon.

Isaacs staan tereg op ʼn aanklag van moord.

Lees ook:
Geen borgtog vir Cradock-juffrou se ‘moordenaar’
Nog steeds geen spoor van Cradock-juffrou
Soektog na vermiste Cradock-juffrou verskerp
Cradock-juffrou steeds vermis; verdagte in hof vir moord
Cradock-juffrou steeds vermis
Cradock-juffrou vermis; polisie ondersoek moord

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E-Psy ·

can someone please tell me or send a picture of Theresa’s dog that walked to the neighbour.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.