Honderde daag op vir voedselhulp

Honderde mense het by Cradle of Hope opgedaag nadat hulle gehoor het kospakkies word uitgedeel. (Foto: Cradle of Hope)

Nadat hulle 11 dae lank nie kos aan behoeftiges in Krugersdorp kon uitdeel nie, het Cradle of Hope Vrydag honderde niebederfbare kospakkies aan inwoners van die gebied uitgedeel.

Die sentrum, ʼn nieregeringsorganisasie wat geen staatshulp kry nie, deel die afgelope vier jaar daagliks sowat 400 grondboontjiebottertoebroodjies uit. Nadat hulle aanvanklik, ingevolge die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling se regulasies, aansoek gedoen het vir daaglikse permitte om voort te gaan om kos te versprei, is die sentrum voorverlede week verbied om verder broodjies uit te deel.

Volgens die departement mag die sentrum nét kospakkies met niebederfbare kos versprei en moet hulle dit verkieslik by elke begunstigde gaan aflaai.

Die sentrum het Vrydag sowat 100 mense wat vir ʼn kospakkie aansoek gedoen het, laat weet dat dit gereed is om afgehaal te word. Nuus oor die voedselhulp het egter soos ʼn veldbrand versprei en honderde meer mense het opgedaag in ʼn desperate soektog na kos.

(Foto: Cradle of Hope)

Volgens die sentrum is die vereiste sosiale afstand ten alle tye gehandhaaf, almal se hande is ontsmet en werkers het die nodige persoonlike beskermende toerusting dra. Melodie van Brakel, wat die sentrum bedryf, sê Cradle of Hope het ook maskers uitgedeel aan nagenoeg 300 mense wat dit nie gehad het nie.

AfriForum en die familieboernetwerk Saai het die 300 kospakkies met basiese niebederfbare items verskaf.

Daar was egter steeds ʼn enorme tekort nadat soveel bykomende mense opgedaag het. Van Brakel sê die sentrum het sy eie spens gestroop en nóg honderde kospakkies aanmekaargesit.

(Foto: Cradle of Hope)

“Nie een enkele mens is weggewys nie. Elkeen in die tou is met iets huis toe,” het Van Brakel gesê.

Cradle of Hope het hom reeds tot die hof gewend oor die regulasies en vra in ʼn dringende aansoek dat dit ongrondwetlik verklaar en tersyde gestel word. Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê die saak word na verwagting op 2 Junie aangehoor. AfriForum en Solidariteit Helpende Hand ondersteun Cradle of Hope in sy hofaansoek.

In nóg ʼn tydelike deurbraak het die hooggeregshof in Kaapstad Vrydag die polisie en amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling verbied om regulasies – wat die verspreiding van kos verhoed – af te dwing voor dit behoorlik afgekondig is.

Die sentrum sê nie een van die mense wat vir voedselhulp opgedaag het, is met leë hande weg nie. (Foto: Cradle of Hope)

Die DA het die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, hof toe gesleep oor die voorgestelde regulasies wat die verspreiding van voedselhulp streng beheer. Die aansoek word eers volgende maand aangehoor, maar regter Robert Henney het intussen beveel dat die regulasies nog nie afgedwing mag word nie.

Ten spyte van dié bevel gaan Cradle of Hope se aansoek teen die Gautengse premier en die LUR vir maatskaplike ontwikkeling voort in ʼn poging om regsekerheid te kry oor presies wat noodlenigingsorganisasies toegelaat word om te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ronel ·

Wonderlik die arm mense het weer kos gekry. Dankie aan almal wat dit moontlik maak.

Zombie ·

Die verwysing na “arm mense” kan as neerbuigend vertolk word.
Jy as “ryk mens” het sekerlik ruim bygedra om die “arm” mense te help.

JohanR ·

Die klomp nuttelose ANC vrekke. Sal ‘n kind honger weg vuis sonder ‘n grondboontjie botter toebroodtjie en ‘n piesang, terwyl hulle hulle maag dik vreet. Ons sal die gebeurtenis, en die Minister Lindiwe Zulu nog vir jare onthou! En dan het die polisie nog ‘n rol gespeel deur seker te maak die deure bly toe. Wat ‘n regering, wat ‘n land! Ek soek ‘n bankrekening nommer sodat ek ‘n EFT aan Cradle Of Hope kan doen. Kan iemand hulp?

Venter ·

Dankie vir almal wat kos skenk en uitdeel aan die nasies van RSA maar daar is its anders wat nou kop uitsteek party van die persone verkoop die kos om geld in hand kan kry om weer die geld aanwend om gemaakte drank en dwelims te kan koop en skuld af te betaal die probleem raak net groter waar stop mens dit

Zombie ·

Dit kan werklik ń probleem wees, Venter. Ek stem 100% met jou saam. Ek wonder hoe mens hierdie maatskaplike uitdaging sou kon bestuur.

Junior ·

Venter ongelukkig gaan jy dit kry maar 80% vd mense het nou die nodige gekry

Jaco ·

Ek sien ‘n paar wit gesigte op daardie foto’s. Mag wit mense dan ook kos kry?

TO ·

Dankie vir julle onbaatsugtige oop hand, vir elkeen wat honger was. Mag God julle ryklik seën.

Jack ·

Mooi mense ek is dankbaar dat julle daar is om te sorg vir diegene wat die regering eenvoudig ignoreer en toelaat om te vergaan. Ons kan nie toelaat dat die geskiedenis van verhongering van ons volk hom herhaal nie. Sterkte vir julle.

Michael 1 ·

Ek sien almal het ontvang en nie soos die anc regime wat net swart mense bevoordeel in tyd van nood nie.

Jenny ·

Wat my die meeste omkrap is dat die mense wat al hierdie regulasies maak elke aand met ‘n trommeldik maag gaan slaap. Duisende kindertjies moet hongerly sodat hierdie magsvertonings kan voortduur. DANKIE vir hierdie mense wat uit hulle pad uit gaan om hierdie honger magies te voed. Dankie AfriForum en Solidariteit Helpende Hand, Cradle of Hope en DA wat vir hierdie honger kindertjies wat nie vir hulself kan sorg nie, baklei

Maria M S ·

En soos dit ons mense betaam, is daar weereens NIE op grond van ras mense weggewys, almal is gehelp. Dis eenvoudig WIE ons is!! Ons beskou dit as ons Christelike plig om ALMAL te help, of hy nou vir water by jou voordeur vra of vir n broodjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.