Honderde dakloos ná brand deur Durbanse township woed

(Foto: Tsoanelo Sefoloko/GroundUp)

Deur Tsoanelo Sefoloko, GroundUp

Honderde mense in Durban is dakloos gelaat nadat die meeste van hul besittings verwoes is toe ʼn brand deur die Quarryweg-township gewoed het.

Die brand het Donderdag vinnig deur die township versprei en altesaam 150 strukture vernietig.

Die M19-snelweg was kortstondig gesluit terwyl brandbestryders en ander noodreddingsdienste gespook het om die brand te blus. Baie van die besittings wat inwoners wel kon red, was boonop op die pad gestrooi.

Die Ethekwini-munisipaliteit se rampbestuurspan het Vrydag die gebied besoek om hand by te sit.

Die raadslid in die gebied, Themba Mkhize, het gesê hy het die aand van die brand ʼn groot tent verskaf wat baie mense gebruik het om teen die reën te skuil.

Die munisipaliteit het ook gesê dat hy die nodige materiale sal verskaf sodat inwoners hul strukture weer kan herbou.

“Die oorsaak van die brand is onbekend, maar ʼn ondersoek is onderweg,” het die munisipaliteit gesê, en bygevoeg dat die omvang van die skade nog bepaal word.

Dit is egter nie die eerste keer dat ʼn brand soos dié in die gebied ontstaan nie.

Sindisiwe Ximba, ʼn inwoner van die township, sê die brande ontstaan meestal in die aand of oor naweke. Sy moes Donderdag huis toe jaag nadat sy van die brand gehoor het.

“Gelukkig het ek altyd my identiteitsdokument in my handsak en dit is die belangrikste,” het sy gesê.

Ander inwoners het reeds begin om gebrande bome af te saag. Lungisani Bumka sê dit is al die bosse en bome wat dikwels die brande help versprei.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.