Honderde dakloos ná brand in Dunoon

Die brand het verwoesting gesaai (Foto: Mark Smith of Milnerton-brandweer)

Meer as 42 informele strukture is verwoes en byna 140 mense dakloos nadat ’n brand Maandagaand in Dunoon, noord van Milnerton in die Wes-Kaap, uitgebreek het.

Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, sê nooddienswerkers is omstreeks 21:30 na die brand in Dumanistraat in Dunoon ontbied. Die brand het glo in een van die informele strukture uitgebreek.

Die polisie het nooddienswerkers na die toneel begelei.

Brandbestryders het die brand eers na middernag onder bedwang gebring (Foto: Mark Smith of Milnerton-brandweer)

“Altesaam 11 brandweerwaens en 45 brandbestryders het probeer om die brand te blus,” sê Carelse.

“Hulle het die brand kort ná middernag in bedwang gebring. Niemand is beseer nie.”

Volgens Charlotte Powell, woordvoerder van die Stad Kaapstad se rampbestuur, is nog geen noodbehuising beskikbaar gestel nie.

“Inwoners bly by familie en vriende. Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) is gevra om humanitêre hulp te verleen,” het Powell gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johanf ·

Ja, sterkte, wens dit niemand toe nie, maar vir my is brande nie meer iets vreemd is SA nie……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.