Honderde mense is dakloos gelaat ná ʼn brand Woensdagaand in Clare Estate in Durban.
Die KwaZulu-Natalse nooddienste het Donderdag gesê honderde plakkershutte het in die informele nedersetting tot op die grond afgebrand.
Volgens Robert McKenzie, ʼn woordvoerder van die nooddienste, het ʼn warm, droë wind die brand vinnig laat versprei.
“Drie mense is vir beserings behandel. Een het ernstige beserings opgedoen, die ander twee is gering beseer,” het McKenzie gesê.
Hy het gesê die brand is intussen onder beheer gebring en beamptes sal Donderdag die gebied besoek om die omvang van die skade te bepaal.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Die nooddienste het ʼn beroep op die publiek gedoen om nie verwarmers, kerse, lanterns of oonde sonder toesig te laat nie. – SAPA