Honderde Dis-Chem-werkers staak

Argieffoto

Dis-Chem het Donderdag gesê ongeveer 760 van sy werknemers by sy Midrand-verspreidingsentrum en hoofkantoor het begin staak oor onbetaalde bonusse, maar handels- en normale bedrywighede by sy 131 winkels word nie geraak nie.

Die maatskappy het gesê die stakende werkers maak minder as 6% van sy algehele werkersmag uit en is geaffilieer met die National Union of Public Service and Allied Workers (Nupsaw).

“Die geskil hou grootliks verband met organisatoriese regte van die vakbond, asook onenigheid oor besluite rakende die diskresionêre bonusbetalings aan ʼn gedeelte van sy lede,” het Dis-Chem gesê.

“Dis-Chem het gesprekke met die werknemers wat hierdeur geraak word, begin in ʼn poging om ʼn algemene begrip en verstandhouding rakende sekere kwessies te bereik en ooreen te kom op ʼn gepaste oplossing.”

Maroela Media het vroeër berig Nupsaw, ʼn filiaal van die vakbondfederasie Saftu, het verlede week gesê hy berei voor vir ʼn staking by Dis-Chem-apteke oor die hele land oor die erkenning van sy organisatoriese regte. Die vakbond het gesê Dis-Chem weier om organisatoriese regte kragtens artikel 21 van die Wet op Arbeidsverhoudinge aan hom toe te ken.

Die vakbond meen ook sy lede is erg benadeel wat die betaling van hul jaarlikse bonusse vir Desember 2017 betref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nell ·

Is ‘n bonus ‘n reg of is dit presies wat dit sê, ‘n “bonus”.

HPV ·

Dit is juis deur stakings en betogings dat die ekonomie gesink het, duisende reeds hul werk verloor het, nog duisende hul werk gaan verloor! En hulle wil bonusse hê! Wat verstaan die mense nie?!

Carina ·

Bonus? Wat’s dit??!! Wees bly julle het nog ‘n werk in vandag se ekonomie. ‘n Bonus is presies wat dit sê – ‘n ekstra betaling indien jou werk van so ‘n aard was dat jy een verdien. Dis nie ‘n reg nie. Daar is duisende, nee seker miljoene mense daar buite wat maar moet tevrede wees met net hul gewone salaris elke maand, niks ekstra.

Renier Lubbe ·

Die aard van die bonus word nie werklik verduidelik nie hoekom dit nie betaal is nie word ook nie verduidelik nie.

As dit ‘n prestasie bonus is kan daar ‘n rede wees vir die nie-betaling.

As dit ‘n jaarlikse bonus is (13de tjek outomaties ingesluit in die pakket van die werkers), moet dit betaal word. Dis-Chem kan immers nie armoede pleit nie.

Diskresionêre bonusbetaling? Is daar spesifieke vereistes of hang dit sommer af van die wil van ‘n toesighouer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.