Honderde gered in Komani weens oorstromings

(Foto: Ezibeleni FORME/Facebook)

Meer as 100 mense is teen Saterdagoggend in Komani (Queenstown), Oos-Kaap, gered wat weens oorstromings gestrand gelaat is. Onder dié mense was ’n swanger vrou en ’n 11 maande oue baba.

Dit is die tweede keer dié maand dat Komani deur vloede geraak word. Dele van die dorp was op 8 Februarie onder water weens swaar en aanhoudende reën.

Volgens Mkhululi Ndamase, woordvoerder van Nomakhosazana Meth, LUR van gesondheid in die Oos-Kaap, het die provinsiale nooddienste Saterdagoggend steeds gesoek na drie mense wat oornag deur die vloedwaters meegesleur is.

Twee mense wat op die dak van hul motors van die vloedwaters probeer ontsnap het, is gered en na die Frontier-hospitaal geneem.

“Noodpersoneel van die Chris Hani-munisipaliteit werk sedert Vrydag onverpoos om mense te red wat deur die oorstromings – veral in die Silvertown- en Gauteng-nedersettings – geraak is. Teen Saterdag omstreeks 07:30 is meer as 100 mense, onder wie vier kinders, al deur dié personeel gered,” sê Ndamase.

Noodspanne van Oos-Londen en Gqeberha (Port Elizabeth) is ook ontplooi om met die reddingspogings te help.

“Lugondersteuning kan dalk nodig wees indien die reënweer aanhou.”

(Foto: Ezibeleni FORME/Facebook)

Die staatsfasiliteite vir gesondheid is nie deur die vloede geraak nie, het Ndamase bevestig.

“Ons noodspanne werk onvermoeid om seker te maak al die mense wat deur die vloede bedreig word, is veilig. Ons is trots op dié spanne se vinnige optrede. Hulle is ons helde en heldinne,” het Meth gesê.

Die noodspanne in samewerking met die polisie, munisipaliteit en private hospitale staan slaggereed om die gemeenskap te help waar hulle kan.

Maroela Media het vroeër berig kenners meen die swaar reën wat die afgelope paar weke in dele van Mpumalanga, Limpopo, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap uitgesak het, kan tot einde Februarie nog voortduur.

Een van die faktore waaraan die swaar reën toegeskryf kan word, is die La Niña-natuurverskynsel – die teenoorgestelde van El Niño wat gewoonlik lae reënval vir Suid-Afrika voorspel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.