Honderde in Gauteng agter tralies ná Oujaar

Argieffoto ter illustrasie van Johannesburg. (Foto: Unsplash)

Meer as 630 mense is Oujaarsaand in Gauteng vir verskeie oortredings in hegtenis geneem, van wie 450 glo nie gehoor aan die afsonderingsregulasies gegee het nie. Dít terwyl verskeie ondernemings in die provinsie se deure deur die polisie gesluit is nadat hulle die aandklokreël verontagsaam het.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale woordvoerder van die polisie, sê nege ondernemings in Tshwane is Oujaarsaand gesluit nadat hulle ná die aandklokreël nog bedrywighede voortgesit het. Drie verdagtes is ook hier in hegtenis geneem vir die onwettige verkoop van vuurwerke.

Die Gautengse polisie het elders in die provinsie vyf inhegtenisnemings uitgevoer vir die verkoop van alkohol. In Soweto het polisiebeamptes in minstens 30 voorvalle op alkohol beslag gelê nadat mense in die straat gesit en drink het. Die oortreders het hulle drankies, stoele en ander eiendom agtergelaat en op die vlug geslaan toe hulle die polisiebeamptes opgemerk het.

Meer as tien mense in die provinsie is in hegtenis geneem vir dronkbestuur, terwyl ander vasgetrek is vir die besit van dwelms en die besit van vermoedelik gesteelde goedere waaronder ’n gesteelde motor en ’n gekaapte sleepwa.

ʼn Verdagte is by ’n padblokkade in Fourways noord van Johannesburg in hegtenis geneem op aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

Aan die Wes-Rand is twee verdagtes in die besit van gesteelde vee voorgekeer.

Volgens Peters het die inwoners van Hillbrow in Johannesburg egter vir die tweede agtereenvolgende jaar met polisiebeamptes saamgewerk en daar is geen misdaadvoorvalle in dié buurt aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.