Honderde in Oos-Kaap aangekeer weens oortreding van regulasies

Sowat 1 400 mense is die afgelope paar dae in die Oos-Kaap aangekeer weens oortredings van afsonderingsmaatreëls. (Foto: SA Polisie)

Die Oos-Kaapse polisie sê hoewel daar in die meeste gebiede geen groot voorvalle aangemeld is nie, het hy met kommer kennis geneem van talle gebiede waar regulasies om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, verontagsaam word.

Van die algemeenste oortredings oor die Nuwejaarsnaweek was mense wat die aandklokreël verontagsaam het, drank verkoop of vervoer het en mense wat nie maskers in die openbaar gedra het nie.

Sowat 1 400 verdagtes is in hegtenis geneem, terwyl talle ander tussen 24 Desember en 2 Januarie beboet is.

Altesaam 1 168 mense is aangekeer omdat hulle die aandklokreël oortree het, 22 is aangekeer vir die vervoer van drank, 139 omdat hulle nie maskers gedra het nie, 56 tavernes is gesluit omdat hulle nie aan regulasies voldoen het nie, beslag is gelê op duisende liters drank, agt verdagtes is aangekeer omdat hulle onwettige byeenkomste gehou het, een omdat hy die toegelate getal mense op die perseel oorskry het, twee is aangekeer omdat hulle beamptes verhinder het in die uitvoering van hul pligte en vier mense is aangekeer omdat hulle inisiasievieringe in brandpuntgebiede gehou het.

“Die inhegtenisnemings moet ʼn duidelike boodskap stuur aan almal wat oënskynlik vasbeslote is om die regulasies van die Wet op Rampbestuur te oortree: Ons gaan die veiligheid van mense prioritiseer en nie enige ooreenkomste aangaan met diegene wat die wet oortree nie,” het lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiehoof, gesê.

Ntshinga het inwoners bedank wat die wet gehoorsaam het, veral wat betref besoeke aan strande, die hou van begrafnisse en regulasies oor tavernes. Ntshinga het egter gewaarsku dat diegene wat die polisie verhinder om hul werk te doen, geen genade kan verwag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.