Honderde kleuterskole wag steeds vir Covid-geld

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het in Februarie verlede jaar die hulppakket vir kleuterskole en ander kindersorgsentrums bekend gestel in ʼn poging om hulle met ʼn eenmalige betaling deur die pandemie te help. (Foto: Grethen de Waal)

Deur Mary-Anne Gontsana, GroundUp

Meer as 1 700 sentrums vir vroeë kinderontwikkeling net in die Wes-Kaap het steeds nie hul Covid-19-hulpverligtingsgeld ontvang nie – en daar is geen aanduiding van wanneer hierdie betalings afgehandel gaan word nie.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het in Februarie verlede jaar die hulppakket vir kleuterskole en ander kindersorgsentrums bekend gestel in ʼn poging om hulle met ʼn eenmalige betaling deur die pandemie te help. Talle sentrums landwyd kla egter dat hulle steeds nie die geld gekry het nie.

In Maart het die eienaars van verskeie sentrums na die parlement opgeruk om die betaling van die uitstaande geld te eis. Sedertdien, op 1 April, het die verantwoordelikheid vir vroeë kinderontwikkeling van die departement van maatskaplike ontwikkeling na die departement van basiese onderwys oorgeskuif.

Yusrah Ehrenreich, bewusmaking- en maatskaplikegeregtigheidsbestuurder by die Sentrum vir Vroeë Kinderontwikkeling, sê niks het egter verander nie. Daar was boonop ook geen kommunikasie oor die uitbetalings deur enige van die departemente nie.

ʼn Opname onder sentrums wys dat slegs 36 uit 441 sentrums die volle betaling ontvang het. Dit is ʼn skamele 8%.

“Ná meer as 14 maande se gestry vir die uitstaande stimulushulpgeld van die departement van maatskaplike ontwikkeling, was die betoging ʼn laaste uitweg. Ons het geen ander opsie as om die saak verder deur regstappe te voer nie,” sê Ehrenreich.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, sê in hierdie provinsie wag 1 717 sentrums nog op betaling.

“By 73 sentrums is die geld weens foutiewe bankbesonderhede teruggestuur. Dit word opgevolg om die korrekte besonderhede te bekom.”

Hammond sê die betalings is vertraag omdat data op ʼn nasionale vlak nagegaan moes word.

Volgens haar is 1 550 sentrums tot dusver betaal – ʼn bedrag wat meer as R25 miljoen beloop. Dit is egter onmoontlik om ʼn tydsraamwerk te gee van wanneer alle uitstaande geld betaal gaan word.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hasie

Die betalings is gedoen ….by Mercedes Benz, BMW en verskeie restaurante , Boutiques en naelsalonne…….

Swerwer

Natuurlik is dit ‘n leuen net soo al die ander want daar is nie geld nie!