Honderde kuikens van Robbeneiland gered

Die kuikens (Foto: NSRI)

Honderde kormorant-kuikens, wat aan die genade op Robbeneiland oorgelaat is, is Dinsdag gered en deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) na ʼn veilige plek geneem.

Die kuikens is tans in die sorg van die Suid-Afrikaanse stigting vir die bewaring van kusvoëls (Sanccob) in Tableview in Kaapstad.

Die NSRI sê in ʼn verklaring dat hy Dinsdag op versoek van Sanccob na die eiland is om die kuikens na veiligheid te bring.

Die vrag bokse (Foto: NSRI)

Sanccob-veldwagters, personeel van die Twee Oseane-akwarium en die NSRI-span het die kuikens in bokse gesit om na Sanccob te neem waar hulle verder versorg sou word.

Altesaam 128 kuikens, wat in 16 bokse gelaai is, is eindelik na die Murraybaai-hawe gebring en op die reddingsboot gelaai. Van daar af is die bokse na die NSRI se reddingstasie in Tafelbaai geneem en toe na Sanccob vervoer.

Die bokse met kuikens word gelaai om na Kaapstad gestuur te word (Foto: NSRI)

Volgens Sanccob het sy veldwagters die situasie op die eiland dopgehou en omdat die kuikens se ouers om die een of ander rede nie teruggekom het nie, is daar besluit om in te gryp.

Daar word wel ondersoek ingestel na hoekom die kuikens verlate gelos is.

ʼn Span wat uit lede van Sanccob, akwariumpersoneel en werkers van die museum op die eiland bestaan, monitor tans die situasie om te kyk of die volwasse voëls dalk terugkeer.

Indien nie, sal nog kuikens moontlik deur Sanccob versorg moet word.

Die NSRI sê hy is ook gereed om verdere hulp te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

dalk is die ouers gearresteer omdat hulle gaan swem het .vind uit by Cele asb .!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.