Honderde miljoene se skade aan parlementsgebou aangerig

Kaapstad se brandbestryders is intussen vir hul dapperheid en flinke optrede geloof. (Foto: Stad Kaapstad)

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit vir die Stad Kaapstad, sê skade weens ʼn reusebrand aan die historiese parlementsgebou kan “honderde miljoene rande” beloop.

Volgens Smith was die temperatuur vroeër Maandag nog sowat 100 °C in sommige dele van die gebou wat dit moeilik maak om die presiese omvang van die skade te bepaal. Die koeëlvaste- en brandvaste vensters het heelwat hitte in die geraakte dele van die gebou gehou.

Talle vrae word intussen gevra oor wat aanleiding gegee het tot ʼn tweede brand by die gebouekompleks in minder as ʼn jaar. In Maart verlede jaar het die Kaapstadse nooddienste die vlamme in bedwang gebring voordat dit te veel skade aangerig het. Die brand het toe in die Ou Volksraadgebou uitgebreek en verskeie kantore en komiteekamers is beskadig. Die vertrekke is boonop verder beskadig toe die outomatiese sproeierstelsel geaktiveer is om die brand te blus.

Maroela Media het destyds berig die parlement het ook ʼn ondersoek gelas na die oorsaak van die brand.

Die lyk of die jongste brand in naastenby dieselfde deel van die gebou ontstaan het.

Samantha Graham-Maré, die DA se woordvoerder oor openbare werke en infrastruktuur, sê hoewel dit nog te vroeg is om te bespiegel oor of die brand verhoed kon word, moet vrae gevra word oor of die omvang van die skade beperk kon word.

Graham-Maré sê die verslag – deur die parlement se brandvoorval-herstelspan – is ná verlede jaar se brand saamgestel en verskeie kwessies wat verband hou met die brandwaarskuwingstelsel, asook die brandbestrydingstoerusting, is daarin geïdentifiseer. Albei kwessies val onder die bestuur van die departement van openbare werke en infrastruktuur.

Die verslag het bevind die bestaande rookverklikkers in die Ou Volksraadgebou is basies nutteloos en daar was duidelike aanbevelings in die verslag om sommige van die tekortkominge reg te stel.

Pres. Cyril Ramaphosa besoek Sondag die brandende parlement. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Graham-Maré sê sy is ná die eerste brand ook ingelig oor ʼn onafhanklike verslag deur ʼn eksterne ouditmaatskappy, BDO – “Review of Parliament’s Prestige Construction Projects” – wat in September verlede jaar afgehandel is.

Ná ʼn geskrewe vraag aan Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het die minister die verslag aangevra en glo byna ʼn jaar ná die afhandeling daarvan ontvang.

“Die minister het haar departement daarvan beskuldig dat hulle die verslag van haar weerhou – ʼn skokkende aanklag van die verhouding met amptenare in ʼn departement waarvoor sy verantwoordelik is. En ook ʼn gevaarlike situasie as dit gelei het tot die gebrek aan inwerkingstelling van die aanbevelings in die BDO-verslag.”

Nadat sy ʼn afskrif van die verslag aangevra het, het die minister aangedui dat sy dit by die speaker van die parlement ingedien het en dat die interne konsultatiewe proses teen die einde van September verlede jaar afgehandel wou wees.

“Die verslag het glo minstens 30 bevindings gehad wat gedui het op gevare in die kompleks, onder meer ʼn bevinding dat die brandbeskermingstelsels onvoldoende vir ʼn erfenisgebou is,” sê Graham-Maré.

Sy sê sy het reeds deur verskeie kanale toegang tot die verslag gevra – onsuksesvol – en dat dit haar verhoed om haar oorsigrol uit te oefen. Die verslag moet nou bekend gemaak word en De Lille en haar departement moet verduidelik hoekom dit so lank gevat het om die verslag bekend te maak en moet antwoorde verskaf oor hul versuim om die aanbevelings in die verslag in werking te stel.

“Hoewel die oorsaak van die brand nog vasgestel moet word, is die idee dat die omvang van die skade verminder kon word as die departement van openbare werke en infrastruktuur die aanbevelings in die onderskeie verslae in werking gestel het, ʼn bitter pil om te sluk.

Skade aan die kompleks beloop na raming honderde miljoene rande. (Foto: Stad Kaapstad)

“Daar was gelukkig geen lewensverlies nie. Volgende keer is ons dalk nie so gelukkig nie.”

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, sê ook geen steen moet onaangeroer gelaat word om die oorsaak van die brand te bepaal nie.

“Die nasionale parlement wat in Kaapstad gehuisves is nie net ʼn klomp geboue nie, dit is die tuiste van ons demokrasie wat ons moet versorg en beskerm.”

Winde was Sondag saam met pres. Cyril Ramaphosa by die parlement om na die omvang van die skade te kyk.

Winde het nes die president die stad se brandbestryders geloof vir hul vinnige en professionele reaksie om die situasie in bedwang te bring.

“Die Wes-Kaapse regering gee dankbaar erkenning aan Kaapstad se brandbestryders vir hul vinnige reaksie en dapperheid,” sê die premier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Begin sommer met julle ondersoek intern en julle skuldiges sit weekliks daar en vet salarisse trek. Geen manier dat die twee brande so kort opmekaar is nie. Daai gebou is van waarde vir ‘ons’ en hulle haat dit.

Blikkies

Ons gaan seker nou weer hoes om die skade te herstel/

SjN

Inside job

Kobus

Die Agbare Minister de Lille is skynbaar vir al die verkeerde redes in die nuus. Sy as minister behoort instruksies / versoeke mos te monitor en as sy bereid is om ‘n jaar vir ‘n verslag te wag is dit swak bestuur. Die heining debakel tussen Zim en SA het sy ook netjies ge-systap en almal kry die skuld maar sy is mos onaantasbaar.

Karen

Dit is mos nou wat hulle wou gehad het….