Honderde motoriste oortree die afsonderingsregulasies

Argieffoto: Verkeer in Pretoria se middestad

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het Donderdag sy misnoeë uitgespreek oor die honderde motoriste en minibustaxi-bestuurders wat vandeesweek die regulasies in verband met die tydperk van algehele afsondering oortree het.

Volgens Ayanda Paine, Mbalula se woordvoerder, het die getal voertuie wat by padblokkades voorgekeer is sedert Maandag van 17 559 tot 29 738 Woensdag gestyg.

Altesaam 509 gevalle van e-taxidienste (dienste wat met apps werk) wat meer as 50% van hul kapasitiet vervoer, is teen Woensdag aangemeld. Dit is 477 voertuie meer as die 32 wat Maandag aangemeld is. ʼn Totaal van 509 minibustaxi’s het teen Woensdag ook nie aan die passasiersbeperking voldoen nie, teenoor Maandag se 18 oortreders.

Ten spyte van die verbod op reis tussen provinsies, het ʼn totaal van 196 motoriste die week probeer om provinsiale grense oor te steek. Gauteng het Maandag die meeste motoriste (108) gehad wat probeer het om die grense na ander provinsies oor te steek. Teen Woensdag is dié provinsie deur Mpumalanga verbygesteek, met 149 motoriste wat in totaal van Mpumalanga na ander provinsies wou reis.

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, sê daar is die afgelope 24 uur altesaam 730 mense in die Wes-Kaap in hegtenis geneem omdat hulle die afsonderingsregulasies verontagsaam het.

“Terwyl ons die Paasnaweek binnegaan, wil ons weer motoriste en inwoners bedag maak op die feit dat daar soveel mense is wat bloot nie gehoor gee aan die regulasies nie. Ons versoek motoriste en inwoners vriendelik om tydens dié langnaweek hierdie regulasies te gehoorsaam en ten alle tye binnenshuis te bly,” sê Africa.

Africa sê daar is padblokkades al langs die Wes-Kaapse grense en wetstoepassers sal nie huiwer om iemand summier in hegtenis te neem as die persoon nie die nodige permit het om op die pad wees nie.

Die departement van vervoer se provinsiale departemente het verkeersbeamptes reg oor die land ontplooi om te verseker dat die regulasies nagekom word. “Wetstoepassers sal nie skroom om te verseker dat die volle mag van die wet op diegene wat voortgaan om die regulasies te oortree, uitgeoefen word nie,” sê Mbalula.

Mbalula sê die oortreding van die regulasies is kommerwekkend en moet deur die regering sowel as die groter gemeenskap veroordeel word. “Hul gedrag stel miljoene lewens in gevaar,” sê Mbalula.

Mbalula moedig diegene aan wat die regulasies ten tyde van afsondering nakom, om aan te hou om dit te doen en ander aan te spoor om hul voorbeeld te volg.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris ·

Die burgerlike ongehoorsaamheid kom sedert die vorige bedeling saam. Dit is iets in die gemeenskap wat gaan bly. Jy kan doen wat jy wil, as jy nie wil hoor nie moet jy voel. Daar is geen iemand so doof soos iemand wat nie wil hoor nie.

Anoniem ·

Ek wil net graag vir die minister se van die motoriste wat wel gereis het van Mpumalanga na Gauteng het die nodige dokumente gehad maar was weggewys deur onbeskofte wetstoepasser wat nie sy werk reg gedoen het nie. My vriend wie se vrou 7 maande swanger is moes sy vrou Benoni toe vat toe hy by Devon se blokkade kom toe wys hy die dokter se brief en toe word daar vir hom gese hulle stel nie belang in die brief nie en hy wys nie sy respek teenoor die land se mense nie en wil net die virus gaan versprei. Sy naam is in n boek geskryf en hy moes terugry Secunda toe. Ek het covid19 sentrum gebel en hulle het gese die brief was voldoende. Ek het JMPD gebel en die vrou daar het gese die brief was voldoende ek het n epos gestuur aan die hoof van erhukuleni se polisie hoof en wag tot vandag toe op sy antwoord. Dus wat maak jy en hoe bepaal jy jou getalle as mense met die nodige dokumentasie weggewys was. N klug

RB ·

Danie, pure magsmisbruik!
Kans is baie goed dat diè mense nie eers kan lees nie. So al het die president self die brief onderteken sou uitkoms selfde wees.
As ons sit met ongeskoolde, onbevoegdes in senior posisies, moenie dink geletterdes gaan die voetwerk doen nie.

Niemand met insig glo enige syfers wat deurgegee word nie, veràl nie in hierdie tyd nie.

Michael 1 ·

Ek kan duidelik in die buurt waarin ek bly sien dat die pretorianers eers gehoor gegee het tydens die eerste paar dae maar nou is dit besigheid soos altyd.Ek skyf dit toe aan n tekort aan dissipline.

Cherokee ·

En asseblief Gautengers, die regulasies laat wel toe dit julle kan gaan kos koop en apteke besoek, maar ek belowe julle, die supermarkte en apteke in Margate is niè goedkoper is die waar julle woon nie :-)

Jan ·

Gee nog n paar weke dan begin almal doodgaan vd honger en die hele eko omie sort in makaar agv n virus wat nie dodeliker is as gewone jaarlijse griep nie…

Boris ·

Hier in die klein kusdorpie waar ek woon in die Wes-Kaap het daar definitief vakansiegangers bygekom. Ander minusipale areas se voertuigregistrasie nommers is volop en vreemde gesigte in die winkel. Huise wat toegestaan het is nou geokkupeer en ‘ventertjies’ en luukse 4×4 voertuie staan voor die deur. Grense om Wes-Kaap word afgesny, maar mense hou rond en bont vakansie in die Wes-Kaap. Mnr. Kenny Africa se manne moet wakker slaap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.