Honderde ondersteun Zuma voor eerste hofverskyning

Andile Mngxitama. Foto: Skermskoot/kykNET-video

Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF), het Donderdagaand tydens ʼn nagwaak in Durban in KwaZulu-Natal aan ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma gesê dat grond in Suid-Afrika wel “gevat” gaan word.

Mngxitama het honderde Zuma-ondersteuners by Albert Park in dié KwaZulu-Natalse stad toegespreek op die vooraand van Zuma se hofverskyning op aanklagte van korrupsie. Die nagwaak is ter ondersteuning van Zuma gehou.

Die nagwaak, wat die hele aand lank geduur het, het begin met ʼn klein groep ondersteuners wat hoofsaaklik uit studente van die Durbanse Universiteit van Tegnologie (DUT) bestaan het, maar talle inwoners van die stad het hulle later by die nagwaak aangesluit.

Edward Zuma, seun van oudpres. Zuma, was tussen die skare wat vir ondersteuning vir sy pa gevra het.

Talle van die Zuma-ondersteuners by die nagwaak was geklee in ANC-kleure of met die ANC-vlag oor hul skouers gedrapeer – dít ten spyte daarvan dat die regerende party vroeër gevra het om nié die ANC te betrek by byeenkomste wat Zuma se hofverskyning ondersteun nie.

Ander ondersteuners wat by die nagwaak was, is onder andere lede van die veteranevereniging Umkhonto weSizwe en invloedryke predikante en kerkleiers wat Zuma ondersteun weens die vordering wat hy volgens hulle in radikale ekonomiese transformasie gemaak het.

Lede van die #HandsoffZuma-groep het tydens die nagwaak aan African News Agency gesê Zuma word vervolg omdat hy standpunt ingeneem het teen Westerse invloede deur gratis hoër onderwys vir die armes te verseker en een van die grootste dryfkragte was om grond in Suid-Afrika aan die “regmatige eienaars” van die grond terug te besorg.

Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), het vroeër aangekondig dat Zuma wel strafregtelik vervolg sal word vir die 783 aanklagte van onder meer bedrog, geldwassery, rampokkery en korrupsie wat hom in die gesig staar. Zuma het Vrydagoggend in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Durban verskyn waar die saak teen hom tot 8 Junie uitgestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet Pompies ·

Mnr BLF hou net aan met blaf omdat hy ‘n salaris ontvang om aldag propaganda te versprei. As die geld ophou, dan blaf hy nie meer, hy verdien nie die aandag wat hy tans kry.

Chivago ·

Wanneer jy te dom is om te besef jy is dom, dis waar die gevaar lê vir die wat nie so dom is nie.

Nel ·

Hoe ironies, skaars ‘n jaar gelede het die skares ‘Zuma must fall” geskreeu en nou is dit “#HandsoffZuma”.

Tanzie ·

Niemand is so blind soos die wat nie wil sien nie. Dis Zuma se verskyning maar die siel praat van land vat.

Wolf ·

Dis nou demokresie in aksie!
Het ek reg gehoor toe Zuma se die ekonomie moet aan die “rightfull owners” terug gegee word, of het ek dit verkeerd verstaan? Dis nou demokrasie. Ek wonder wat het die eienaars van die nuwe demokrasie in 1994 of voor dit besit?

Casper Labuschagne ·

En so word die stokou aanklagte vir bedrog teen Zuma nou ‘n stryd vir die grond wat teruggevat moet word. Vir ‘n lang tyd sê ek al dat sodra Zuma in hoek gedruk word, hy die raskaart sal speel en hier is nou ook die begin daarvan. Op Twitter is daar videos van liedjies wat Zuma vandag voor die hof sing vir ‘n skare van sekerlik meer as ‘n duisend. En die aanmerking vanoggend vanaf Zuma dat, “Eendag sal julle spyt wees dat hierdie sake teen my weereens voortgaan” meer sin maak as dit gesien word as iets wat teen die wit minderheid gemik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.