Honderde ontsnap jaarliks uit aanhouding

Argieffoto (Foto: SAPD/Facebook)

Duisende verhoorafwagtendes het oor die afgelope vyf jaar uit die polisie se greep losgekom deur uit onder meer polisieselle, hofselle of op pad na die polisiestasie te ontsnap.

Bheki Cele, minister van polisie, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur die DA gesê dat altesame 3 570 vermeende boewe sedert 2016 ontsnap het.

Terwyl honderde gevangenes nooit weer opgespoor word nie, het die polisie wel daarin geslaag om byna 2 900 van hierdie verdagtes weer in hegtenis te neem.

Cele het in sy antwoord gesê ʼn derde van al die ontsnappings het uit polisieselle (1 075) plaasgevind.

Limpopo is verantwoordelik vir die meeste van hierdie soort ontsnappings (230), gevolg deur Noordwes (197) en Gauteng (189). Slegs 34 gevangenes het oor die afgelope vyf jaar uit polisieselle in die Vrystaat ontsnap.

In ʼn onlangse voorval het nege verhoorafwagtende mans uit polisieaanhouding in Badplaas in Mpumalanga ontsnap.

Dié verdagtes is by die polisiekantoor in die Albert Luthuli- plaaslike munisipaliteit aangehou ten tye van die ontsnapping. Maroela Media het vroeër berig dat hulle vir verskeie aanklagte aangehou is, onder andere moord. Een voortvlugtende is reeds in hegtenis geneem, maar die ander agt is nog op vrye voete.

ʼn Groot aantal ontsnappings vind ook plaas terwyl verdagtes van een gebied na ʼn ander, soos ʼn polisiestasie of hof, vervoer word.

Volgens Cele het 295 verdagtes al uit ʼn hofgebou ontsnap, terwyl meer as 370 ontsnap het terwyl hulle by die polisiestasie of hof op- of afgelaai word.

Altesame 306 verdagtes het uit die hof se aanhoudingselle ontsnap en 290 op pad na die polisiestasie toe.

Van dié beweerde skelms (27) is só slinks dat hulle selfs uit vertrekke in polisiestasies waar vingerafdrukke geneem word, ontsnap het en 228 van hulle het uit hospitale verdwyn.

Waarvandaan verdagtes ontsnap hetAantal
Tydens inhegtenisneming116
Op pad polisiestasie toe290
Gemeenskapsdienssentrum (GDS) by polisiestasies245
GDS-aanhoudingselle183
GDS‑vingerafdrukkantoor27
Konsultasiekamers28
Oplaai- en aflaaisones by polisiestasies231
Polisiestasie-aanhoudingselle1 075
Hof-aanhoudingselle306
Hofkamers en -gange295
Oplaai- en aflaaisones by howe138
Hospitale228
Tydens verdere ondersoeke160
Ongemagtigde vrylating by polisiestasies en howe248
Totaal3 570 

Cele het in antwoord op die DA se vraag gesê dat talle polisiebeamptes weens die groot aantal ontsnappings van nalatigheid aangekla is.

Meer as 1 450 polisiebeamptes en selfs drie lede van die Valke het al tereggestaan op hierdie aanklagte. Dit is egter nie duidelik of die beamptes ooit skuldig bevind is nie.

Die polisie het ʼn nasionale plan van aksie om ontsnappings uit polisieaanhouding in die toekoms hok te slaan, maar sê die verantwoordelikheid berus ook by provinsiale polisiekommissarisse om hul eie planne vir hul betrokke provinsie op te trek.

“Polisiestasies met veelvuldige ontsnappings word jaarliks geïdentifiseer en besoek om tendense en die omstandighede van elke voorval te bepaal,” het Cele gesê.

“Voorkomende maatreëls word dan opgestel in ʼn poging om toekomstige voorvalle hok te slaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Genis ·

SAPD- Suid Afrikaanse Patetiese Diens? Laat mens wonder, hoe skelm en korrup geinvultreer het.. Dis n skande

Di ·

Meeste het nie ONTSNAP nie – die selle is vir hulle oopgemaak – KORRUPSIE op die hoogste vlak in die polisiemag. Raak ontslae van al die kriminele in die polisie, dis AL uitweg

Andre ·

Ons moet onthou dat dit nie eintlik polisie selle is nie maar nagskuilings met etes en môre vertrek jy weer na ‘n ander een

Marcello ·

En ek kan julle verseker, dit is nie blankes nie, ek weet van iemand (‘n vrou) wat van die Polisieselle na die Hofselle geneem is, en sy was onaanvaarbaar hanteer. En sy was nie aangekla van Moord of ‘n ernstige oortreding nie. SKANDE !!!!

Jakes ·

Dit is omdat die Sapd en in baie gevalle korrektief, ook soos n sirkus bestuur word. Hierdie is seker maar die oortjies van die seekoei. Dan praat ek nie eers van dossiere wat wegraak en onbeholpe speurders nie.

Kokerboom ·

Alle gevestigde strukture of instellings waaraan die ANC die afgelope 28 jaar aan geraak het het misluk.
Dit bewys mos oor en oor dat die ANC kaders GEEN benul van bestuur het en die ironie is hul mag dit besef maar is te bang om te erken. Kan mens regtig so ideoties en dikvellig wees?
Einstein het gese: ” Insanity is doing the same thing over and over again expecting different outcomes”!

Koos 100 ·

Hi ou hoed. Dit gaan nog erger word. Jou junior lede se gesinne ly honger weens geen salaris verhogings nie en lewenskostes wat die hemel in skiet. As so ‘n lid R1000.00 aangebied word om weg te kyk, gaan hy dit aanvaar!

Nie Verbaas ·

Het mens nodig om kommentaar te lewer? Bedank net die hopelose ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.