Honderde oumas gaan fliek saam met Sorina

Sorina Eramus en Magda Beukes het saam met die oumas gekuier by Helpende Hand se ‘Vat ʼn Ouma fliek toe’-inisiatief. Foto: Esté Meyer Jansen

Sorina Eramus en Magda Beukes het saam met die oumas gekuier by Helpende Hand se ‘Vat ʼn Ouma fliek toe’-inisiatief. Foto: Esté Meyer Jansen

Solidariteit Helpende Hand het onlangs ʼn honderd oumas van Centurion, Pretoria met ʼn spesiale vertoning van die nuwe Afrikaanse romantiese-komedie, Vrou Soek Boer, bederf.

Op ʼn karige staatspensioen kan iets soos ʼn fliekkaartjie ʼn byna onbekostigbare luukse wees.

Dié vertoning verlede week Donderdag was die eerste in die ‘Vat ʼn Ouma fliek toe’-inisiatief tussen Solidariteit Helpende Hand, Time Media Films en Ster-Kinekor. Die veldtog beoog om minstens 20 behoeftige oumas in elkeen van Helpende Hand se verskillende bedieningstreke die geleentheid te gee om dié Afrikaans rolprent te sien.

Helpende Hand het die oumas op dié dag bederf met ʼn heerlike oggend op die rooi tapyt. Hulle het ook saam met Magda Beukes, een van die akteurs in die rolprent, en Sorina Erasmus, beter bekend as die Flooze en aktrise in die sepie 7de Laan, gekuier. Sorina is ook die organisasie se ambassadeur vir die Ouma en Oupa-projek. Daar is boonop ʼn foto van elke ouma geneem en hulle het ʼn koffie en peuselhappie geniet voor die aanvang van die vertoning. Elke ouma is na afloop van die fliek met ʼn geskenkpakkie bederf.

ʼn Paar inwoners van Eldoraignepark-aftreeoord het verduidelik wat ʼn geleentheid soos hierdie vir hulle beteken het: “Hierdie is ʼn lekker geleentheid waar jy ander mense se geselskap kan geniet,” het Isabel Engelbrecht gesê. Susan van Niekerk en Tossie van der Merwe het albei verduidelik dat die vertoning vir hulle ekstra spesiaal is omdat hulle nie meer self bestuur nie en daarom nie andersins self by ʼn fliekvertoning sal kan uitkom nie.

Lede van die publiek staan die kans om twee nagte se verblyf vir twee persone te wen by Mowana Spa deur ʼn ouma te vat om die Boer Soek Vrou-rolprent by ʼn Ster-Kinekor te gaan kyk. Neem ʼn foto van julleself voor of na die vertoning en stuur dit aan Michelle Burger, die projekorganiseerder, by [email protected] om in aanmerking te kom vir die prys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.