Honderde pakkies van dank vir gesondheidswerkers

Honderde sorgpakkies is na gesondheiswerkers in Stellenbosch versprei (Foto: Stellenbosch Unite)

Stellenbossers het saamgespan om amper 1 000 sorgpakkies vir plaaslike gesondheidswerkers te skenk, om hulle te bedank vir die harde werk en lang ure wat hulle voortdurend tydens die Covid-19-pandemie insit.

Jeanneret Momberg, uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch, sê die Eikestad se infrastruktuur is onder geweldige druk, en dat werkers in die openbare én privaat sektor oorwerk en uitgebrand voel.

“As teken van ons waardering vir alles wat hulle doen, in die mees uitdagende omstandighede, wil ons vir elkeen wat werk om ons veilig te hou ʼn sorgpakkie gee,” sê sy.

 

Jeanneret Momberg, uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch (Foto: Verskaf)

Stellenbosch Unite het die skenking van 991 sorgpakkies vir mediese personeel, onder wie verpleegsters, paramedici, skoonmakers, veiligheidswagte, administratiewe werkers, kliniekwerkers en ondersteunende personeel gekoördineer.

Stellenbosch Unite help om maatskaplike ondersteuning te bied vir kwesbare gemeenskapslede gedurende die Covid-19-pandemie.

Stellenbossers kon pakkies self pak óf skenkings maak vir die pakkies. Die sorgpakkies het ook persoonlike briefies van dank en motivering ingesluit.

“Die ondersteuning van die gemeenskap was oorweldigend,” sê Momberg. “Ons is weereens oorweldig deur die gemeenskap se gees van vrymoedigheid en samewerking.”

Sorgpakkies word aan gesondheidswerkers in Stellenbosch oorhandig (Foto: Stellenbosch Unite)

Stellenbosch Unite, in samewerking met Visit Stellenbosch en die nieregeringsorganisasie Bergzicht Training, het ook pakkies saamgestel vir versorgers en skoonmakers in ouetehuise om seker te maak dié werkers kry die nodige erkenning.

“Ons weet dat ons nooit ons dankbaarheid ten volle teenoor hierdie gesondheidswerkers kan wys nie, maar hierdie klein tekens van dank beteken baie vir hulle,” sê Momberg.

“Ons hoop alle gesondheidswerkers sal hierdeur herinner word dat die Stellenbosch-gemeenskap dankbaar is vir hul volgehoue opoffering en uithouvermoë.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Arno ·

Hierdie werkers benodig ‘n entstof, nie dankie sê briefies of geskenk pakkies nie!

Androclus ·

Op die stadium is die pakkies in my oog reg want die entstof is nie 100% nie soos jy self weet.

Karel Kobus Kruger ·

Entstof sal nog n paar maande moet wag, soos dinge nou gaan. Ek wil my verstout om te sê teen volgende jaar die tyd sal net so 3 miljoen mense ingeënt wees.

Tinker ·

Die pakkie wys waardeering vir hulle,dit bemoedig hulle en wys dat ons raaksien wat hulle doen. Dis die minste wat ons kan doen vir hulle nou.

Aai ·

Glo my Arno as die privaat sektor dit hanteer het,het hulle entstof gekry maar nou ja VIVA @NC.Dit is ‘n begin om hulle positief te hou.

Hennie J ·

So n wonderlike gebaar! Daar behoort aan elke voorlinie werker ook n balkie/kenteken wat deel van die uniform is, uitgereik te word .Hierdie helde moet permanente erkenning kry vir hulle heldhaftige optrede.

TO ·

Ek dankie vir julle onbaatsugtige werk, maar ons werkers, dokters kort die eer en fondse wat nou aan die Kubane gegee word. Sis Ramaphosa

Tinker ·

Groot fm in pretoria doen dit ook, sorg die versorger projek. Mense het van orals pakkies of geld gesken. Gister was hulle by unitas hospitaal, vandag gaan hulle steve biko toe. Dit is wonderlik hoe mense saamstaan om die mense die eer te gee wat hulle toekom. Gaan kyk gerus op groot fm se facebook blad.

Willem ·

Wonderlik. Hierdie mense moet op enige manier geprys word vir wat hulle doen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.