Honderde reeds betrokke by eis teen Eskom

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Die prokureursfirma De Beer Attorneys sê nagenoeg 300 individue en sakeondernemings het hom reeds gekontak oor moontlike betrokkenheid by ʼn groepeis teen Eskom.

Elaine Bergenthuin, besturende vennoot van die firma, het gesê dit sal ideaal wees as ʼn openbare belangegroep uiteindelik namens die honderde eisers as die aansoeker in die saak kan optree.

“Eskom, as ʼn staatbeheerde onderneming, het ʼn wettige verpligting om elektrisiteit aan Suid-Afrikaners te verskaf. Ten spyte hiervan het ons land ongekende kragonderbrekings en beurtkrag ervaar weens ʼn klaarblyklik nimmereindigende energiekrisis by die nasionale kragverskaffer,” het die firma in ʼn verklaring gesê.

Bergenthuin het gesê die firma maak reg vir ʼn groepeis teen Eskom vir die voorkombare verliese wat ondernemings en individue weens beurtkrag gely het. As ʼn onderneming byvoorbeeld ʼn spesifieke kontrak met Eskom het oor die verskaffing van elektrisiteit, sal Eskom se “nalatige optrede” wat gelei het tot die kragonderbreking, die basis van die eis vorm.

Elke saak sal egter op eie meriete beoordeel word.

Bergenthuin het gesê hulle sal moet bewys dat Eskom se optrede onredelik of nalatig was. Eskom sou in dié geval moontlik aanvoer dat beurtkrag nié uit nalatigheid voortspruit nie, omdat dit ʼn rasionele, verantwoordelike reaksie is op die elektrisiteitskrisis en ʼn manier is om te verseker dat die stelsel nie heeltemal ineenstort nie.

Sy het gesê dit kan wel aangevoer word dat die elektrisiteitskrisis egter deur Eskom sélf veroorsaak is, weens sy versuim om die infrastruktuur in stand te hou.

“Hulle kan dus steeds vir die verliese verantwoordelik gehou word,” het Bergenthuin gesê.

Sy het gesê die oogmerk is nie om nóg druk op belastingbetalers te plaas met ʼn skadevergoedingseis nie, maar dat uitvoerende hoofde aanspreeklik gehou moet word.

Bergenthuin het gesê die firma se regstegniese spesialiste besluit ook nog in watter hof, die konstitusionele- of hooggeregshof, ʼn aansoek gebring kan word. Dit kan egter maande duur voor die aansoek in die hof beland.

Bergenthuin het gevra dat diegene wat by die geding betrokke wil raak, ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Elsa ·

Ek is bly dat die mense darem iets doen , hoop net dat die hof dit gou kan laat gebeur.
My buurman het vir Eskom gewerk , hy se hulle moes gegaan het want daar is niks meer maintenance nodig nie. Hy het 24jaar terug daar gewerk.

BlinkStephaans ·

Dit is wat gedoen moet word… en hoe meer ondernemings betrokke raak hoe beter. Dit gaan klippe kou in die hof wees, en ñ uitgerekte proses, en duur, maar roer hulle.

Pokkel ·

Wat gaan gebeur as hulle wen? Massiewe eis teen maatskappy wat al klaar in sy peutjie is. Dan gaan hulle forseer word deur hof om te betaal en beurtkrag kom terug. Soos die Engeslman sê : “Cause and effect”

Roelf ·

Opportunisties om minste te se. Wat gaan hulle bereik? Escom is bangkrot so as hulle wen suffer die hele SA. Gebruik eerder die geld ( miljoene) wat in die regsgeding gemors gaan word en bele in eie kragvoorsiening.

ne ·

Wonder of iemand ooit ‘n sent uit hulle sal kry. Jy betaal vir die lyn na jou plek toe en nog ‘n klomp ander heffings dan kry jy gedurig krag onderbrekings.

Katryn ·

Om elke maand ‘n R1700. te betaal net vir heffings en dan kom jou krag gebruik nog by is nie maklik nie!!! Jy betaal per dag vir instandhouding maar sien hulle net elke 4 jaar as hulle die gras en die bome onder die drade kom skoon sny!!

Elske ·

Indien die eise slaag sal hulle seker die tariewe verhoog om dit te betaal.

Ben ·

Ek wens hulle wil Soweto en baie ander munisipaliteite wat miljarde skuld, summier afsny tot hulle hul rekening betaal het. Dan het Eskom baie geld om die ou gemors te onderhou en ons het krag!

KaterinaKat ·

Dit is wat broodnodig Moet gebeur maar ek glo nie hulle sal dit waag nie. Kan jy jou voorstel hoe die inwoners van daai plekke sal aangaan? Dit sal totale grootskaalse anargie veroorsaak. En die ANC te veel stemme kos. Hulle sal dit nooit as te nimmer doen nie. Ons sal daai menigtes tot in lengte van dae moet subsideer.

Stem! ·

Ek stem saam jou Ben!
Hoekom word my krag summier gesny as ek nie betaal nie, maar daar is ander wat miljarde skuld.. DIT maak nie vir my sin nie?!?

riaan ·

Beste van als is dat dit (elektrisiteit gebruik sonder om te betaal) doodreg staan teen die sogenaamde gebruiker moet betaal beginsel wat Mboweni verlede week ten opsigte van e-tol gehuldig het! Hoekom doen hy as Minister van Finansies nie iets hieroor nie? Want dit is die anc se stemgenote!!!

Pieter ·

Daar is geen politieke wil om die eskom gemors op te ruim nie. Ons sal nog vir jare so stry en aan pik.

A Mac ·

Die aksie teen Eskom is ‘n baie goeie idee. En indien dit geslaagd is kan mens sekerlik ander staatsinstellings ook begin aanspreeklik hou vir hulle nie-voorsiening van dienste. Ons is te geneig om heeltyd te kla oor dienste en die regering se swak lewering daarvan, maar doen iemand iets, al loop dit ook op niks uit, dan kla ons ook daaroor. Hoop staatsinstellings neem kennis dat belastingbetalers nou siek en sat raak vir derderangse of selfs geen diens en begin iets doen daaromtrent. Sterkte vir die mense wat bereid is om Eskom en die wat daarna kom aan te vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.