Honderde SA’ners al terug by die huis

Minister Naledi Pandor (Foto: DIRCO South Africa, Twitter)

Meer as 600 Suid-Afrikaners is die afgelope twee weke van reg oor die wêreld na Suid-Afrika gerepatrieer. Só het Naledi Pandor, minister van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), Donderdag gedurende ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê.

Sowat 3 639 Suid-Afrikaners het tydens die afsondering reeds met Dirco kontak gemaak en aangedui dat hulle in die buiteland gestrand is. Maroela Media het ook verskeie kere berig oor moedelose Suid-Afrikaners wat in ander wêrelddele gestrand is. Pandor sê Dirco doen alles in sy vermoë om dié Suid-Afrikaners veilig terug huis toe te bring.

Pandor sê haar departement staar egter talle uitdagings in die gesig en kan nie al die gestrande Suid-Afrikaners eensklaps terugbring nie.

“Die afsonderingsregulasies in Suid-Afrika en veral in die betrokke lande waar die Suid-Afrikaners gestrand is, maak dit vir ons moeilik om ons repatriasieprosedures te volg. Partykeer kan Suid-Afrikaners nie na die stad reis waar die lughawe geleë is om by die repatriasievlug uit te kom nie weens afsonderingsregulasies wat hulle beweging beperk,” sê Pandor.

Pandor sê hulle gaan voort om met die onderskeie ambassades en regerings te onderhandel om hul burgers te repatrieer te midde van die regulasies.

Die SAL het Woensdag die eerste keer in meer as 20 jaar weer na Miami gevlieg (Foto: SouthAfricanAirways, Twitter)

Pandor sê in sommige lande, onder meer Thailand en Pakistan, is dit moeiliker as in ander om die nodige toestemming te kry om wel voort te gaan met die repatriasie. “Ons hoop om binne die volgende twee dae van hierdie lande af terugvoering te kry.”

Pandor sê talle Suid-Afrikaners word per dag van buurlande soos Namibië, Lesotho en Botswana gerepatrieer. Streng maatreëls is by grensposte in plek om te verseker dat die mense wat die land binnekom wel Suid-Afrikaners is. Dieselfde maatreëls geld ook vir internasionale vlugte.

Suid-Afrikaners wat na Suid-Afrika teruggebring word, moet eers vir 14 dae in kwarantyn geplaas word. Dirco werk saam met die departement van gesondheid om te verseker die nodige toetse en streng voorsorgmaatreëls word by lughawens toegepas.

Pandor sê sy is heel tevrede met hoe Dirco met die repatriasieproses vorder.

Maroela Media het vroeër berig dat meer as 300 Suid-Afrikaners Woensdagaand teruggekeer het na Suid-Afrika op ʼn huurvlug van SAL vanaf Miami in die Amerikaanse deelstaat Florida. Altesaam 60 Suid-Afrikaners het ook vroeër die week uit Brasilië teruggekeer en altesaam 100 van Accra in Ghana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.