Honderde skole in KZN nié Dinsdag oop

Die vloede het verwoesting in KwaZulu-Natal veroorsaak (Foto: Phill Magakoe, AFP)

Die KwaZulu-Natalse departement van onderwys sê meer as 600 skole sal nie môre (Dinsdag) gereed wees vir onderrig nie ná erge oorstromingskade in dié provinsie.

Volgens die departement is 630 skole deur die oorstromings geraak en nóg 101 is nie toeganklik nie weens paaie wat onbegaanpaar is. Na wat verneem word, is 124 skole baie erg beskadig. Altesaam 57 leerders het omgekom in die oorstromings en vyf word vermis. Een onderwyser is dood.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal die provinsie Dinsdag besoek om ʼn bestekopname van die skade te doen.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook intussen aangedui hy sal die land vanaand (Maandag) om 21:00 toespreek oor Suid-Afrika se reaksie op die oorstromings. “Dit kom ná ʼn vergadering van die kabinet Sondag waartydens die regering die maatskaplike en ekonomiese gevolge van die oorstromings in die provinsie bespreek het, sowel as die werk wat nodig is om die skade te herstel,” lui ʼn verklaring deur die president se kantoor.

Die president het die eThekwini-munisipaliteit Woensdag besoek waar hy ingelig is oor die reaksie op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak met betrekking tot die ramp. Ramaphosa het ook ʼn werkbesoek aan Saoedi-Arabië gekanselleer om aandag te gee aan die impak van erge weerstoestande, wat sedertdien ook in die Oos-Kaap voorgekom het.

Die president se toespraak sal op nasionale nuuskanale uitgesaai word.

  • Die tyd wat die president praat het verander sedert hierdie berig die eerste keer geplaas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grassie ·

Baie van die skole is op TV gewys, Sommige was nie in laagliggende gebiede nie en toon nie vloedskade nie, hulle is bloot geplunder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.