Honderde sterftes, verminkings met omgeboude taxi’s

(Argieffoto ter illustrasie: Bongani Mbatha/ANA)

Navorsing dui daarop dat daar die afgelope paar jaar sowat 350 mense in naastenby 160 ongelukke met die omgeboude taxi’s dood is. Dit is sowat 2,4 sterftes per ongeluk – maar sluit nie eens die slagoffers in wat dood is in ander voertuie (as die taxi’s) wat in dieselfde ongelukke betrokke was nie.

Daar is in die Johannesburgse hooggeregshof begin met regstappe teen verskeie motorhandelaars en vier van die land se groot banke in ʼn poging om miljarde rande te eis namens mense wat niksvermoedend vir sogenaamde regte Toyota-taxi’s opgedok het, terwyl dit inderwaarheid onveilige omgeboude paneelwaens was.

Die aansoek is verlede week ingedien en op altesame 74 respondente beteken. Dit sluit in Toyota SA Motors, Toyota Finansiële Dienste, Wesbank, Absa, Standard Bank, Nedbank, SA Taxi Finance en verskeie gebruikte motorhandelaars.

Die saak wentel om Toyota-paneelwaens wat oorspronklik vervaardig word om slegs drie mense te vervoer, maar jare lank omgebou is om tot soveel as 16 passasiers te vervoer en dan as ʼn regte Toyota Quantum-taxi verkoop is.

ʼn Soortgelyke saak namens slagoffers wat weens ongelukke met die omgeboude voertuie beseer of dood is, word voorberei.

Die dodelike praktyk het aan die lig gekom nadat Hennie de Beer, ʼn voormalige bankier by Absa, bewus geword het daarvan en dit onder die bank – en die bedryf – se aandag probeer bring het.

De Beer is glo aangesê om anderpad te kyk.

Hy het later bedank en het in 2012 ʼn klag by die Openbare Beskermer (OB) aanhangig gemaak nadat hy omvattende navorsing oor die ongelukke en sterftes gedoen het. Die verslag is in 2019 bekend gestel en die OB het bevind dat diegene betrokke by die saak, vervolg moet word. Die verslag het ook verskeie verdoemende bevindings teen onder meer die departement van vervoer, Toyota en verskeie finansiële instellings gemaak.

Die hofsaak spruit uit dié bevindings.

“Mense is doelbewus, vir geld, na hul dood gestuur,” sê De Beer wat al jare lank ʼn opdraande stryd voer om geregtigheid vir slagoffers wat in ongelukke met die paneelwaens dood of beseer is, te verseker.

Daar is boonop steeds duisende van die onwettig omgeboude taxi’s op die pad – na raming tussen 6 000 en 7 000 – en hoewel dit maar ʼn gedeelte van die algehele bedryf is, het die voertuie reeds onsettende skade op die land se paaie veroorsaak.

Litigasiekenner Zain Lundell hanteer die saak namens die aansoekers, terwyl Richard Spoor Prokureurs besig is met die voorbereiding vir die saak namens ongelukslagoffers.

De Beer sê hy het tientalle van die slagoffers die afgelope paar jaar ontmoet en dit is hulle wat hom aangespoor om teen groot persoonlike koste die saak te bly dryf.

“Mense is in daardie taxi’s dood en baie van die ongelukke was kop-aan-kop-botsings. Ek weet nie eens wat van die ander partye in die ongelukke geword het nie,” sê De Beer.

Hy verwys onder meer na ʼn vrou wie se oor ná ʼn ongeluk in een van die omgeboude taxi’s geamputeer moes word. Haar man het haar verlaat, glo omdat haar gesig geskend is, en sy is haar werk as rakpakker kwyt omdat sy nie haar arms meer behoorlik kon optel nie.

Dan is daar ʼn jong meisie wat ná ʼn ongeluk in een van die omgeboude voertuie verlam gelaat is. Haar ma is ʼn enkelouer wat haar met die hulp van die meisie se ouma moet versorg.

Ses kinders is in dieselfde ongeluk dood.

“Dit is hulle wat my die moed gegee het om deur te druk,” sê De Beer.

Die meerderheid van taxi-eienaars wat die onwettig omgeboude voertuie gekoop het, het hul ondernemings verloor.

“As jy ʼn voertuig gaan koop, koop jy ʼn bepaalde handelsmerk. Dieselfde gebeur met ʼn passasier wat in ʼn taxi klim. Daardie passasier het lank in ʼn tou gestaan om in ʼn veilige taxi en nie in ʼn skorokoro te klim nie.”

Talle van die slagoffers is egter brandarm en is ná die taxi-ongelukke aan die genade oorgelaat.

“Verminkings, families wat uitgewis is… Daar is mense wat nie eens geweet het dat hulle in ʼn onwettige taxi was nie, mense wat hul taxi-ondernemings verloor het.

“Die mense wat geraak word, is die armste van die armes – maar die wonderlikste mense. Hulle is arm en daarom het hulle nie ʼn stem nie. As ek weet mense gaan dood, kan ek mos nie terugsit en niks doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

40 Kommentare

jongste oudste gewildste
melaney

Wys net tot waarnatoe banke in staat is. Skokkend om die minste te sê.

Alfred E Neuman

En al die jare blameer ons die taxi bestuurders! Ek hoop al die betrokkenes by hierdie onwettige praktyke word swaar gestraf.

Harley Davidson

Swak voertuie vir taxi bestuurders en jy sit met ‘n resep vir chaos,hoop net die cruiser is nie ‘n omgeboude mahindra nie.

Marinda

Meneer De Beer Dis ook goed dat jy hierdie laat ondersoek En jy het miskien n klomp geld daarvoor gekry Maar moenie die anderkant vergeet nie Wie sit agter die stuurwiel van daardie taxis?? Meestal roekelose kansvatters wat geen dissipline het nie En weinig omgee vir hulle aksies en die gevolge daarvan Enige Taxi beweeg gewoonlik in die rigting waarin jy die stuurwiel draai Gewoonlik is dit in n awaregse rigting teen die normale aanvaarbare LOGIESE manier waarop voertuie gewoonlik beweeg Hoekom stel jy nie liewer n sielkundige profiel op van taxibestuurders se gedrag en hulle bestuurvernuf nie Dankie vir… Lees meer »

Pietertjie

Dís nou ‘n ware pandemie.