Honderde verdagtes in Gauteng vasgetrek

Argieffoto

Ongeveer 484 verdagtes is die afgelope naweek in Gauteng in hegtenis geneem in verband met verskeie misdrywe.

Dít volg as deel van die provinsiale polisie se laaste fase van hul veilige feestydprojek.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie in Sedibeng het Saterdag ʼn moordverdagte in Evaton vasgetrek. Daar is ook beslag gelê op ʼn vuurwapen wat glo tydens die pleeg van ʼn misdaad gebruik is.

Ander verdagtes is vir misdrywe wat wissel van gewapende roof, poging tot moord, die besit van dwelms, aanranding, dronkbestuur, besigheidsroof en die besit van ʼn gekaapte voertuig in hegtenis geneem.

“Altesaam 44 verdagtes is in Ekurhuleni-noord in hegtenis geneem vir misdrywe wat verkragting, huisbraak, die besit van vermoedelik gesteelde en gekaapte voertuie, die besit van dagga, bestuur onder die invloed van drank en aanranding insluit,” het Makhubele gesê.

Daar is ook padblokkades, stop-en-deursoek-operasies en klopjagte op onwettige drankwinkels uitgevoer en polisiesigbaarheid verhoog op plekke waar daar gereeld misdaad voorkom.

Volgens Makhubele is daar ook 97 verdagtes in hegtenis geneem in Ekurhuleni-sentraal vir besigheidsroof, huisroof, die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, huisbraak en dronkbestuur.

Polisie in die Wes-Rand het 114 verdagtes vir besigheidsroof, aanranding, huisbraak, dronkbestuur en die besit van ʼn gesteelde voertuig in hegtenis geneem.

Volgens Makhubele is 66 verdagtes in Johannesburg-Wes in hegtenis geneem vir misdrywe soos verkragting, aanranding en huisbraak.

“Al die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn,” het Makhubele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa B ·

Ja en borg kry en aangaan met hulle lewe sonder om ‘n veer te voel vir die mense wat se lewe met hul dade omver gegooi of selfs verwoes is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.