Honderde verhongerde diere op hoewe aangetref

Een van die voëls in hokke op die kleinhoewe aangehou. (Foto: Facebook)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein gaan ʼn klag van wreedheid teenoor diere lê nadat meer as 800 verhongerde diere op ʼn kleinhoewe aangetref is.

Charmaine Engelbrecht, inspekteur by die DBV, sê in ʼn verklaring daar is op byna 900 voëls, twee varke, twee honde, asook verskeie hase en visse beslag gelê nadat dié diere byna omgekom het van honger en dors op ʼn kleinhoewe in Ferreira.

Luidens die verklaring het die DBV reeds verlede maand klagtes oor die eienaar ontvang nadat hy een Saterdagoggend voëls by ʼn plaaslike mark verkoop het. Dié voëls het die betrokke dag sonder enige water in hokke in die warm son gesit en lede van die publiek het die DBV se hulp ingeroep.

Die DBV het die man gewaarsku om die voëls van water en koelte te voorsien. Die DBV het daarna opvolgbesoeke aan die mark gebring, maar die man was nie weer op die mark te sien nie.

Volgens Engelbrecht verskaf die man ook voëls aan verskeie troeteldierwinkels in die stad en die DBV het besluit om die kleinhoewe te besoek waar met dié voëls gebroei word.

“Ek was op geen manier voorbereid op wat ek [op die kleinhoewe] gesien het nie. Ek het deur rye en rye diere geloop wat almal na my met desperaatheid in hul oë gestaar het,” vertel Engelbrecht oor die besoek.

Van die voëls in hokke op die kleinhoewe aangehou. (Foto: Facebook)

Volgens Engelbrecht is verhongerde voëls, hase, visse, varke, ganse, eende, hoenders, kalkoene en poue op die erf aangehou. Dit was duidelik dat die diere ʼn geruime tyd lank geen kos en water gehad nie en sommige diere het weens hongerte selfs van die ander diere begin eet.

Verskeie dooie diere is tussen lewende diere aangetref.

Luidens die verklaring was van die voëls saam in een hok geprop. Dié hokke is selde skoongemaak en is op mekaar gestapel, wat daartoe gelei het dat die voëls se ontlasting op ander geval het wat in hokke onder hul hok aangehou is.

“Sommige van die voëls se bekke was so kort of stukkend dat hulle nie kon eet nie. Dit is absoluut wreed om diere in sulke gruwelike omstandighede aan te hou,” sê Engelbrecht.

Volgens Engelbrecht het die DBV beslag gelê op die diere waarna hulle gevoer is. Sommige van die diere moes egter van kant gemaak word weens hul swak toestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sarel ·

Ons wil weet watter Troeteldier winkels met die persoon besigheid gedoen het.

Magda ·

JA asb – wil weet Wie dit is en WIE die Eienaar is van die Plaas – Hulle veriden almal om vervolg te word to op die hoogste hof wat daar kan wees.

Linda ·

Die DBV moet ophou boetes gee en begin om die onnosele siele toe te sluit! Dis absoluut onaanvaarbaar!

Rudolph ·

Mense wat diere by ‘troeteldier’ winkels koop, liggaamsdele en uitskeidings van diere by slaghuise en supermarkte koop, klerasie van dierevelle koop is medepligtig aan die mishandeling en doodmaak van diere wat wereldwyd en op ons voorstoep gebeur. Die enigste manier om hierdie en alle wreedheid teenoor diere hok te slaan is om jou beursie toe te maak en toe te hou vir diere of diereprodukte. Dit is die maklikste en mees bevredigende verandering wat ek ooit gemaak het

Secret_Garden ·

Skokkend, van die diere se organe sou reeds skade gekry het, sa hulle so lank sonder kos en water was, dat hulle in elk geval uitgesit gaan word….hoop die man word nooit weer toegelaat om met diere te werk nie!!

Nella ·

En nou mag mens nie eers sê dat die eienaar ook so moet ly nie. Dit maak my briesend. Ek sorg eers vir my diere voor ek self eet. Ek glo die troeteldierwinkels het gesorg dat daar daardie tydjie wat die diere/voels by hulle was, kos en water gehad het. Een troos dit is daar en nie in die bloedige son op die mark nie.

Johan ·

Geen verrassing……….dis hoe hulle “boer” met voëls en hoenders. Ek’t nog maar bitter min van hierdie stedelike pluimvee-boere gesien wat ordentlike hokke en goeie kos aan hul diere verskaf. Daar is uitsonderings, maar ook maar bitter min. Hulle is ‘n klomp vuil en ongegorganiseerde mense wat die pluimvee aanhou vir “skoudoeleindes” waar hulle kan spog met hul broei materiaal, maar ook maar net die skoue bywoon om te suip! Vra my, ek was daar……

Scalla ·

Hoop daar word streng opgetree teen die skuldiges, MM wat het van die ene speaker se dbv verwaarlosing saak geword? Kan julle dalk opvolg asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.