Honderde weer dakloos weens oorstromings

‘n Sinkgat langs ‘n huis in Umdloti. (Foto: Twitter/ eThekwini)

Ten minste 500 mense is reeds gedwing om hul huise te ontruim nadat swaar reën KwaZulu-Natal vir die tweede keer in net twee maande getref het.

Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie, maar teen Sondagaand was daar reeds erge skade aan sommige huise en geboue, veral in Durban, en talle paaie is onbegaanbaar.

“Ons het nog nie ʼn omvattende verslag oor die impak van die swaar reën die afgelope naweek nie, maar soos inligting inkom skets dit reeds ʼn baie kommerwekkende prentjie,” het Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, Sondag tydens ʼn perskonferensie gesê. “Tot dusver is die grootste impak langs die kusgebiede van eThekwini (Durban). Die getal noodoproepe uit hierdie gebiede het ook toegeneem en ons het gevra dat die weermag in noordelike dele van Durban ontplooi word om dringende bystand te verleen.”

Dít skaars ʼn maand nadat vernietigende oorstromings meer as 400 lewens geëis en duisende dakloos gelaat het. Die vorige storms het ook miljoene rande se skade aan paaie en ander infrastruktuur aangerig en herstelwerk het eers ʼn paar weke gelede begin.

Foto’s van ʼn reuse sinkgat langs ʼn huis in Umdloti en dele van paaie wat inmekaargeval het, doen nou opnuut die ronde op sosiale media. “Sommige plekke is heeltemal ontoeganklik [weens skade aan die paaie] en het eilande geword,” het Zikalala gesê.

Owerhede het 82 sentrums oopgestel waar inwoners wat dakloos is, skuiling kan soek. Die weermag en nooddienste is ook Sondag op hoë gereedheid geplaas om mense te help wat uit hul huise verwyder moet word.

In ʼn verklaring deur die provinsiale regering word skoolgemeenskappe aangeraai om uiters versigtig te wees wanneer hulle Maandag skool toe reis, aangesien baie van die paaie verspoel of erg beskadig is. Skoolhoofde word ook aangeraai dat, sou paaie Maandag onbegaanbaar wees, leerders liefs aangesê moet word om tuis te bly. “Ons kan nie bekostig om enige verdere lewens weens die vloede te verloor nie,” lui die verklaring.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal reën tot vandag (Maandag) voortduur.

Bykomende inligting deur AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cecilia ·

Absoluut. En ongelukkig is glow-in-the-dark vlae en die Afrikaanse Taal Monument se naamsverandering belangriker. En natuurlik 35 miljoen vir Kuba en vet salarisse wat betaal moet word sodat die gelag kan aangaan.

JohanR ·

Cecilia…..dis wat gebeure as kaders aangestel is met “nie ‘n clue” nie, en met GROOT ego’s! Kan net hoop dat in 2024 is die ANC weg, maar pasop van nou af tot 2024 vir al hulle truuks!

Cherokee ·

ANC weg om deur wiè vervang te word, Johan? Dit is die groter komkommer. Want die DA mag wel amptelike opposisie wees, maar as die ANC hul bagasie pak, sal die DA dalk net steeds amptelike opposie bly.

Janice ·

Kyk, ek is geen bouer nie en van bouplanne lees weet ek niks, maar iets met die foto sit nie vir my reg nie. Hoekom lyk dit asof hierdie gebou op hout stilte gebou is en hoekom is dit op sand gebou met geen “re-inforcement” nie? Jammer as ek verkeerd is. Ek wonder maar net.

Twallie ·

My teorie (en ek is bes moontlik verkeerd) is dat meerderheid van die grond in daardie area, veral op heuwels, sagte grond is wat maklik meegee. Dis wat ek uit die foto ook sien. Dit blyk heuwels gee net in onder sterk watervloei, veral as daar nie bome is nie.

Miskien is daar ‘n kenner wat ons kan uithelp?

Samuel ·

Dit is tragies en met klimaatsverandering gaan sulke weerpatrone seker meer dikwels na vore kom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.