Honderde werkers onseker oor toekoms by steenkoolmyn

mynboubedryf-mynbouhandves-steenkool

Foto: Hangela/Pixabay.com

ʼn Gedeelte van die Goedehoop-steenkoolmyn, net duskant eMalahleni (Witbank), gaan moontlik eersdaags sluit.

Maroela Media is Woensdag deur ʼn werknemer by die myn van die plan ingelig om die myn te sluit. “Ons is 9:00 ingeroep vir ʼn vergadering waar daar aan ons gesê is om huis toe te gaan, maar dat daar nog geen finaliteit is nie.”

Anglo American, die myn se eienaar, het aan Maroela Media bevestig dat konsultasies begin is oor die voorgestelde sluiting van dié myn.

Sibusiso Tshabalala, die groep se eksterne kommunikasiebestuurder, het gesê dat die myn ná 36 jaar sy natuurlike bronne uitgeput het. “Die sluiting sal egter net die suidelike reserwes van die myn affekteer, terwyl die myn en verwerkingsbedrywighede aan die noordelike kant steeds sal voortgaan.”

Die maatskappy sal voorts reëlings vir ʼn herstruktureringsproses tref om die gedeelde korporatiewe sentrum en dienste tussen die suidelike en noordelike gedeeltes van die myn met die onderneming se dalende operasionele strekking te vereenselwig. “Hierdie besluit is nie ligtelik geneem nie en volg op ʼn gedetailleerde hersiening van die onderneming,” sê Tshabalala.

Die konsultasieproses, sê hy, sal sowat 543 permanente en 250 kontrakteurs by die myn raak, terwyl 45 werknemers by die hoofkantoor en gedeelde dienste se werk nou ook in die weegskaal is. “Anglo American het talle maatreëls gevolg om te verseker dat daar nie onnodige afleggings hoef plaas te vind nie,” sê Tshabalala.

Dit sluit vrywillige skeidingspakkette, herontplooiing van werknemers na ander geskikte posisies in die Anglo American-groep en ʼn voorgestelde implementering van vroeë aftrede vir werknemers ouer as 55 in.

“Ons vermoed dat die sluiting al ʼn lang ruk in die pyplyn is, omdat poste by ander myne gevries is. Vermoedelik was dit om plek te maak vir die werknemers van Goedehoop,” het die Goedehoop-werknemer, wat anoniem wou bly, gesê.

Volgens die werknemer was daar glo ook groot ontevredenheid van mynwerkersvakbonde by Goedehoop. Maroela Media het navrae aan die mynwerkersvakbond NUM gerig.

“Ons tree gereeld met die werknemers wat deur die sluiting geraak word, asook met die vakbonde in kontak en die finale besluit rondom die herstrukturering sal eers ná die konsultasieproses geneem word,” sê Tshabalala.

Die konsultasieproses sal met behulp van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) uitgevoer word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

my opinie ·

My hart gaan uit na my mede kollegas ek hoop daar kom ‘n oplossing dis BAIE gesinne wat sonder inkomste gaan wees en werk daar buite is daar nie, dis baie hartseer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.