Honderde winkels begin skade weens oproer bepaal

Die Makro in Pietermaritzburg is een van die winkels wat geplunder is. (Skermgreep: Twitter)

Altesame 190 van The Foschini Group (TFG) se winkels in Suid-Afrika is in die afgelope week se oproer geplunder of beskadig.

Die groep sê nie een van sy winkels in KwaZulu-Natal doen in hierdie stadium weens veiligheidskommer sake nie.

“ʼn Verspreidingsentrum wat deur een van die ons logistieke diensverskaffers bedryf word, asook die vervaardigingsaanleg van een van ons plaaslike verskaffers, is ook deur ʼn brand tydens die oproer beskadig. Dit het nie ʼn wesentlike uitwerking op ons verskaffingsketting nie,” lui ʼn verklaring van TFG.

Die groep sê die situasie is steeds onseker, hoewel daar bemoedigende tekens is dat sommige dele van KwaZulu-Natal en Gauteng al hoe meer tot bedaring kom.

Die assessering van skade wat aan sy winkels aangerig is en deur versekeringspolisse herwin sal word, word in hierdie stadium nog gedoen.

“Die winsverlies weens die onderbreking in sake word ook nog bepaal. Die groep het voldoende versekeringsdekking en het sy versekeraars dienooreenkomstig kennis gegee.

“Sasria het voorts die versekering deur ʼn openbare verklaring gegee dat hy die finansiële vermoëns het om eise na te kom, hoewel vertragings verwag kan word weens die talle sakeondernemings en bedrywe wat geraak word.”

Sasria, die South African Special Risks Insurance Associaton, is die regering se korttermynversekeraar teen skade weens oproer en terreur.

TFG sê sy onmiddellike prioriteit is die welstand en veiligheid van sy werkers, klante, bates en verskaffingsvennote.

Handel by winkels in die res van die land, asook op die vasteland – waar die groep nagenoeg 3 000 winkels bedryf – gaan soos gewoonlik voort.

“Die groep sal saam met al sy belanghebbendes, ook die regering, begin met die proses om die geraakte winkels te herbou en met voorraad te vul sodra dit veilig is om dit te doen.”

In sommige gebiede sal dit vroeër gebeur, terwyl die aard en omvang van skade by ander winkels kan beteken dat dit eers later sal heropen.

Massmart het intussen vandag bevestig dat 18 van sy Cambridge-winkels, 10 Game-winkels, agt Builders-winkels, drie Cash & Carry-winkels en twee Makro’s in die oproer geplunder is. Twee van die groep se verspreidingsentrums is ook geraak en vier fasiliteite het beduiende skade weens brandstigting opgedoen.

Die groep het ook verskeie van sy “kwesbare” winkels gesluit en sê hy sal begin met die heropening daarvan sodra dit veilig en prakties moontlik is.

Massmart sê hy is vol vertroue in sy vermoë om aan die voorraadbehoeftes van al sy winkels te voldoen en dat hy gebeurlikheidsplanne in werking gestel het om die uitwerking van die ontwrigting te hanteer.

“Die volle omvang van die skade word nog bepaal. Massmart kan egter bevestig dat die versekeringsdekking wat hy vir sulke voorvalle het verliese vir die groep sal minimaliseer. Ons is vol vertroue dat die algehele situasie sal stabiliseer terwyl die regering bykomende wetstoepassingshulpbronne ontplooi en orde herstel.”

Massmart sê hy is ook verbind daartoe om sy werkers, klante en die gemeenskappe wat hy dien te help om ten volle te herstel van die ongelukkige gebeure van die afgelope paar dae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

DieKriek ·

So die groot kannone eis net en gaan aan. Wat nou van kleiner ondernemings wat nie SASRIA dekking het nie?

Tjom ·

Onderneming sonder n minimum v Sasria versekering is bitter onverantwoordelik.

Corne123 ·

DieKriek
Wel as jy nie SASRIA of n versekering in SA het nie en dit gebeur is dit maar jou eie skuld.

Frik ·

OK, hulle is relatief gelukkig en tevrede dat hulle versekerings-uitbetalings hulle skade sal minimaliseer? “There is no such thing as a free lunch”. Êrens moet iemand uiteindelik vir die skade opdok, en soos gewoonlik sal dit die eindverbruiker wees.

annie ·

Gaan die uitbetalings ook net korttermyn van aard wees… en dan is die geld skielik op.

Jaco ·

Dit sal interessant wees om te weet watter rasse besit dié beskadigde geplunderde besighede en wat is al daardie besighede se vlakke van BEE. Net ingevolge regstellende aksie vereistes MOET al daardie besighede regstellende aksie toepas. So ná dié skade en verliese gaan klomp van hulle werkers werkloos wees. So behalwe dat “rassistiese wit monopolie kapitaal” deur die plundery seergemaak is, gaan baie van hulle swart werkers sonder werk wees. Met dié geplunder het our people eintlik dus ook vir our people seergemaak. Vreemd… Wat dan nou van Black Lives Matter en human rights en ubuntu?

Willem ·

Laat die people oor n toonbank koop en hou hul uit winkels!!!!!

Tiptol ·

So deur ‘n venster aan die kant van die gebou…. Die verlede dae.

Jack ·

Ek kan nou se stel n klasaksie in maar feit is die staat gaan in elk geval betaal deur sasria. Hoop dat die wat hul inkomste as werkers deel word van die vergoeding dit sal niks minder as reg wees juis oor die staat se versum tot tydige optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.