Honderdmiljoene hotelgaste se inligting gelek

Tot 500 miljoen gaste wat by 1 200 Starwood-hotelle wêreldwyd gebly het, soos die Sheraton Pretoria, se inligting het in die verkeerde hande beland. Foto: Sheraton

Die hotelbestuursgroep Marriott International stel ondersoek in na die ongeoorloofde toegang tot ʼn besprekingstelsel met die inligting van tot 500 miljoen gaste wat wêreldwyd by die hotelketting Starwood bespreek het. Dit sluit hotelle in Suid-Afrika soos Sheraton en Westin in.

Marriott het reeds begin September ʼn waarskuwing ontvang dat iemand probeer het om toegang tot Starwood se besprekingstelsel in die Verenigde State te verkry, berig die Belgiese dagblad De Standaard. Tydens ʼn ondersoek het dit geblyk daar was al sedert 2014 onregmatige toegang tot die netwerk.

Die inligting bestaan ook uit bankkaartnommers en hul vervaldatums.

Marriott is nog besig met sy ondersoek, maar vermoed dat tot sowat miljoen gaste wat by Starwood bespreek het, hierdeur geraak kan word. In die geval van 327 miljoen gaste bestaan die inligting uit kombinasies van byvoorbeeld name, geboortedatums, telefoonnommers, e-posadresse en paspoort- of ID-nommers.

Wat selfs meer ontstellend is, is dat die inligting wat onregmatig bekom is, in sommige gevalle ook bankkaartnommers en hul vervaldatums bevat. Die nommer is met ʼn sekere protokol versend, waarvan die ontsyfering twee komponente vereis. Marriott kan nog nie die moontlikheid uitsluit dat albei komponente gesteel is nie.

Starwood is ʼn filiaal van Marriott en bestuur 1 200 hotelle wêreldwyd, waaronder Sheraton en Westin wat ook hotelle in Suid-Afrika besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anton X ·

Mooi man. Ek stel voor dat julle ouens liewers in die toekoms weg bly uit die spoggerige hotelle, en liewer daai skaaptjoppie tuis braai. Lekkerder kry jy nie.
En net vir die wis en die onwis, olie sommer die kettie en hou hom byderhand.

madels ·

Maklik, almal wat daar was, kry nuwe kredietkaarte…. geen probleem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.