Hondesiekte in Alberton; talle honde van kant gemaak

'n Hond met hondesiekte. Foto: en.wikipedia.org

‘n hond met hondesiekte. Foto: en.wikipedia.org

Talle honde wat by die Alberton-DBV aan die Oos-Rand gehuisves word, moet van kant gemaak word nadat hondesiekte (distemper) in die omgewing uitgebreek het.

“Die situasie is baie ernstig en ons het geen ander keuse as om menslik op te tree en die diere se lyding te beëindig nie,” het Maggie Mudd, ʼn woordvoerder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), Vrydag aan Maroela Media gesê.

Sy sê die NDBV het dringend by die tak ingegryp nadat hulle klagtes van die publiek en veeartse in die omgewing ontvang het, rakende sommige beamptes by die tak wat nie die siek honde van die ander diere geïsoleer het nie. Dit het veroorsaak dat ander honde ook die siekte opgedoen het.

Die NDBV het in ʼn verklaring gesê dat die tak, waaronder die tak se voorsitter van die uitvoerende raad, nie verantwoordelik opgetree het nie en voortgegaan het om siek honde te aanvaar, al kon daar nie vir hulle voorsiening gemaak word nie. Daar is ook klagtes ontvang dat siek honde vir aanneming beskikbaar gestel is. Sommige lede van die komitee het sedertdien bedank.

“Die siekte is ʼn groot bekommernis en daar is gevalle regoor Alberton. Alle inwoners word aangeraai om hul honde te laat inent as dit nie onlangs gedoen is nie.” Dit neem sowat twee weke vir die inenting om in werking te tree.

Sy sê tekens van hondesiekte is soortgelyk as griep by mense. “Die hond sal ʼn loperige neus hê, hoes, moeg en koorsig wees en nie wil eet nie. Sodra dié simptome waargeneem word, moet die hond so gou as moontlik na ʼn veearts geneem word.”

Die siekte word deur ontlasting, speeksel en urine versprei.

Die NDBV het reeds begin om die Alberton-tak se hokke skoon te maak en te ontsmet. Die hokke gaan vir minstens ʼn week na twee weke moet leegstaan. Rondloper en ongewenste diere gaan in dié tydperk by die DBV se takke in Germiston en Bedfordview gehuisves word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

Shame dis baie sad hoor ek ken daai gevoel ek moes my meisiekind 5maande trug laat uitsit deur presies diesele mis haar nog baie daar is nie n cure in S.A vir distemper nie :-(

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.