Hondesleedroom neem man van sonnige SA na yskoue Alaska

(Foto: Verskaf)

Gerhardt Thiart en sy vrou, Al-Jo, het hul lewe in Suid-Afrika agtergelaat om ’n yskoue avontuur in Alaska aan te pak sodat Thiart sy droom as hondeslee-drywer kon bewaarheid.

Thiart se groot droom om aan die Iditarod-hondesleewedren deel te neem is vanjaar bewaarheid toe hy in Maart die eerste Suid-Afrikaner nóg geword het om dié wedren te voltooi.

Dié 1 600 km-wedren, wat in 1973 die eerste keer plaasgevind het, vind jaarliks in Maart plaas en strek van Anchorage tot Nome in Alaska. Die wedren neem tussen nege en 14 dae om te voltooi en tot 14 honde kan in ’n span gebruik word.

“Vir amper twee weke is dit net jy en jou honde in die bevrore wildernis. Jou lewe hang heeltemal af van die verhouding wat jy met jou honde het,” vertel Thiart aan Maroela Media.

Gʼn s(l)eepgladde pad

Thiart is gebore en getoë in Citrusdal, Wes-Kaap. Hy en Al-Jo het ook daar gewoon totdat hulle in 2010 besluit het om na die VSA te verhuis.

(Foto: Verskaf)

Die egpaar het in die vroeë 2000’s ’n Siberiese poolhond (in Engels bekend as ʼn husky) gekry en was dadelik versot op dié honderas. Hulle het daarna nog poolhonde gekry.

“Siberiese poolhonde is geteel om aan sleewedrenne deel te neem en ons het hulle ingespan om droëland-sleewedrenne op grondpaaie te doen.”

Thiart het in 2002 van die Iditarod-hondesleewedren te hore gekom en ’n dokumentêr daaroor aanlyn bestel en daarna het die hondesleewedren-gogga hom behoorlik gebyt.

“Ek het vir my vriende gesê dat ek eendag aan dié wedren gaan deelneem.”

Die egpaar het in 2010 besluit om sak en pak na die VSA te verhuis om Thiart se droom na te streef om aan die Iditarod-hondesleewedren deel te neem.

(Foto: Verskaf)

Tien jaar lank het die egpaar twee of selfs drie werke gelyk gedoen om finansieel kop bo water te hou om die droom te bewaarheid. Hulle het onder meer by ʼn hondesleewedren-hondeherberg, restaurante, en op plase gewerk en ook mense se gras gesny en huise skoongemaak.

Hulle wou verblyfreg bekom en dit sou beteken Thiart moes weer agter die studieboeke inskuif. In 2017 het hy ʼn sakebestuursgraad voltooi en in 2019 ʼn graad in rekeningkunde. In 2013 het Al-Jo ’n graad as veeartsenykundige assistent verwerf.

Die egpaar het in 2020 hul groenkaarte gekry en toe na Alaska verhuis. Thiart se droom om aan die Iditarod deel te neem het al hoe meer na ʼn werklikheid begin lyk. Hy het van Januarie 2021 tot Maart 2021 aan uitdunne deelgeneem om vir die wedren te kwalifiseer en het in Oktober hard vir die wedren begin oefen.

Droom eindelik verwesenlik

(Foto: Verskaf)

Hy het in Maart verlede jaar die eerste keer aan die wedren deelgeneem, maar dit nie voltooi nie omdat hy sy enkel sowat 80 km voor die wenstreep gebreek het.

“Ek was só naby om my droom te verwesenlik, maar die terugslag het my nie gekeer om weer te probeer nie.”

In Oktober het hy weer vir die wedren begin oefen.

In Maart vanjaar was dit sulke tyd – en Thiart het die wedren suksesvol voltooi terwyl die Suid-Afrikaanse se volkslied by die eindstreep oor die luidsprekers gebulder het.

Thiart het die wedren in 11 dae en 21 uur voltooi en só sy droom en doelwitte bewaarheid.

“Dit is ’n goeie gevoel.”

Vir hom was tou opgooi nooit ʼn opsie nie.

“Die wete dat my vrou by die eindstreep vir my wag, het my gemotiveer om aan te hou.”

(Foto: Verskaf)

Volgens Thiart is die grootste bedreiging op die roetes Amerikaanse elande (moose).

“By twee afsonderlike geleenthede het ʼn Amerikaanse eland my span honde aangeval en ek moes die dier met my 9 mm-vuurwapen doodskiet om my lewe en my honde te red.”

Thiart het met die wedren ook geld ingesamel en bewusmaking gekweek vir wildbewaring in Suid-Afrika. Hy het die GAT-stigting op die been gebring en met die organisasie TUSK hande geneem om steun aan wildbewaarders en hul honde te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.