Hondesmokkelaars op grenspos vasgetrek

Van die honde waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD

Van die honde waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD

Twee mans van Angola is op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat hulle Sondag in verband met hondesmokkel by die Vioolsdrift-grenspos in die Noord-Kaap in hegtenis geneem is.

“Inocencio Da Silva Manuel (35) en Joao Texteira Antonio (37) het Dinsdag in die Springbok-landdroshof verskyn,” het lt. Sergio Kock, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. Die mans is op 17 Augustus in hegtenis geneem toe 33 honde in hul besit gevind is.

“Beamptes van die Vioolsdrift-grenspospolisie het ʼn Nissan-voertuig met ʼn sleepwa deursoek waarin die honde vervoer is,” het Kock gesê. “Die twee mans het slegs uitvoerpermitte vir 23 van die honde gehad en was van Suid-Afrika na Angola op pad.”

Die honderasse is boerboele, poolhonde, Duitse herdershonde en ander kruisings.

“Die meeste van die honde was ontwater en het tekens van wanvoeding getoon. Die mans is ook aangekla vir die onbehoorlike manier waarop die honde vervoer is,” het Kock bygevoeg.

Die polisie het die honde na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Upington geneem. Hulle word tans hier versorg en gemonitor.

Die mans se voertuig kan moontlik ook aan ander misdrywe gekoppel word.

Die mans moet weer op 19 September in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belinda ·

Verkoop sommer daai Bakkie en koop vir die diere kos want duidelik weet ons almal waarvoor die arme diere daarheen gevat sou word lekker gevang!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.