Hondgevegte-advertensie ʼn foefie

Die kennisgewing van die NDBV.

Die kennisgewing van die NDBV.

Die advertensie op ʼn sleepwa in Johannesburg, wat skynbaar hondgevegte adverteer en verskeie mense warm om die kraag gelaat het, was toe ʼn publisiteitsfoefie.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het ná verskeie navrae omstreeks 15:00 bekend gemaak die “advertensie” is nie waar nie en ʼn inisiatief van die organisasie om bewustheid te skep.

“Het die advertensie jou rooi laat sien? Sit jou woede om in aksie en staan op teen hondgevegte,” het die NDBV in ʼn verklaring op sosiale media gesê.

Die inligting is ook op die webblad van die sogenaamde adverteerder geplaas.

Die NDBV het gesê die advertensie is deel van ʼn veldtog om die groeiende misdaad van hondgevegte in Suid-Afrika te beklemtoon.

“Die veldtog is Maandagoggend van stapel gestuur en paar ure daarna was daar ʼn openbare oproer daaroor. Die doel van die advertensie is om bewusmaking te skep oor die skokkende werklikheid in die land.”

Die NDBV het om verskoning gevra as die advertensie mense ontstel het en het die publiek bedank vir hul passievolle opvolgwerk in die verband. Lees meer hier.

Maroela Media het vroeër berig op die advertensie staan “Fight Night Pit Bull Tournament, Main Event, Nitro vs Thor, There can only be one winner”, saam met foto’s van twee Amerikaanse veghonde.

ʼn Motoris het Maandagoggend die mobiele advertensie, wat deur ʼn bakkie gesleep is, in Johannesburg opgemerk, ʼn foto daarvan geneem en op sosiale media geplaas. Die foto het vandaar soos ʼn veldbrand versprei en talle mense het dit onder die aandag van die JMPD en NDBV gebring.

Sommige sosialemediagebruikers het vermoed dit kan moontlik ʼn publisiteitsfoefie vir die gemengde gevegskuns (MMA)-sportsoort wees, aangesien Nitro en Thor name van deelnemers is. South African MMA het egter op hul Facebook-blad gesê MMA het niks met hondgevegte te doen nie. “Ons word oorval met navrae nadat die advertensie in Randburg-omgewing gesien is. Sodra ons enige inligting oor die saak het, sal ons die publiek in kennis stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KarooKlong ·

Puik bemarking. Baie slim uitgedink. Rakelings verby moeilikheid.

Leon Pit ·

Sekere DBV’s moet self ondersoek instel ooor hul eie bedrywighede. Net sekere sake ivm Honde se doen en late word onder die vergrootglas weg gevee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.