Hondjie kry operasie ná sy met mes bygedam is

Lilo is in die laer nek gesteek (Foto: DBV Bloemfontein, Facebook)

WAARSKUWING: Die foto’s in die berig is grafies en kan sommige lesers en kinders ontstel.

ʼn Hondjie van Bloemfontein het nou hoop op ʼn gelukkige toekoms in ʼn liefdevolle huis nadat sy die afgelope naweek ʼn operasie ondergaan het om ʼn meswond in haar nek te herstel.

Die vyf maande oue Lilo se eienaar het Vrydag inspekteurs van die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) na haar huis in ʼn informele nedersetting digby Bloemfontein ontbied waar dié hondjie vermoedelik met ʼn mes bygedam is.

Duán Matthee, inspekteur van die DBV in Bloemfontein, vertel die voorval het Donderdagaand gebeur toe die eienaar nie tuis was nie. Lilo was alleen by die huis.

“Iemand het toegang tot die erf verkry en Lilo het dadelik na die persoon toe gehardloop om te speel. Die indringer was nie daar om met haar te speel nie en het toe ʼn mes uitgeruk en haar in die nek gesteek,” vertel Matthee.

“Omdat die eienaar nie by die huis was nie, was daar niemand om Lilo te help nie. Niemand het haar hoor huil nie. Sy het heelnag in haar eie plas bloed gelê. Dit is ondenkbaar om te dink watter pyn sy moes verduur.”

Die eienaar was glo besig om Lilo as ʼn waghond op te lei.

“Omdat sy nou eers leer hoe om ʼn waghond te wees, het sy daardie aand nog nie geweet hoe om haarself te verdedig nie. Sy is ook te liefdevol en sal eerder na die indringer toe hardloop om aandag te kry as om aggressief op te tree.”

Lilo net nadat sy gesteek is (Foto: DBV Bloemfontein, Facebook)

Die messteek het skade aan die weefsel in Lilo se nek, haar een long, tragea en ander interne organe veroorsaak. Haar spiere in haar laer nek is ook afgesny.

“Sy het baie bloed verloor, maar is ʼn klein vegtertjie.”

Die eienaar het die volgende oggend op Lilo afgekom en dadelik die plaaslike DBV om hulp ontbied. Lilo is aan die DBV oorgeteken omdat die eienaar besef het dat sy nie die huis as waghond gaan kan beskerm nie.

“Ons het aan die eienaar verduidelik dat die aanhou van honde vir veiligheidsdoeleindes nie goed of lewensvatbaar is nie en dat Lilo met die jare gedragsprobleme sal toon. As die hond ouer word, sal sy óf vreesbevange óf aggressief raak en dan sommer onnodig mense of kinders aanval.”

Matthee sê hulle het Lilo toe Vrydagoggend gaan haal en die DBV se veearts het haar dadelik begin behandel.

“Dit gaan in die omstandighede goed met Lilo. Haar stertjie waai al. Die operasie om die skade te herstel was ook ʼn sukses.”

Lilo is tans by die veearts onder waarneming.

Die DBV het op sy Facebook-blad vir skenkings gevra vir Lilo se operasie, behandeling en medikasie. Hulle benodig egter nog geld om haar behandeling voort te sit totdat sy dan beskikbaar gestel word vir aanneming.

“Sy kort ʼn liefdevolle huis en eienaars wat haar die wêreld se liefde en aandag sal gee.”

Enigiemand wat graag tot Lilo se mediese sorg wil bydra of moontlik belangstel in aanneming, kan die Bloemfontein DBV se Facebook-blad besoek vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dries ·

Ek het nie woorde nie. Mag arme klein Lilo se lewe net beter word na hierdie bitter begin.

Antjiepat ·

waghond opleiding… die eienaar het ook haar verantwoordelikheid onderduik deur nie navorsing te doen oor die hond se ras nie en nou dat sy nie ‘n waghond kan wees nie teken die eienaar haar sommer af aand DBV.. siestog daardie ogies is so bang en alleen.. wens ons kon mense ook afteken as hul nie hul doel op aarde dien nie

Kokerboom ·

Die samelewing of groot dele daarvan in SA is totaal verrot!!!

Jr ·

As liewe God Soddom en Gamorrah vernietig het oor hoe sondaadig was , wil ek nie weet hoe sondig sleg was hy. Want God moes ons lankal uitgeveë het

Leana ·

Al wat daai gesiggie vra is liefde. Hoe doen jy so iets aan ‘n dier.

4ntj13 ·

Kan sy op haar regter voorbeen trap of is daai senuwees ook beskadig?
Liefste Lilo, ons Hemelvader sien jou. Hy weet dat mense wat dit aan diere doen, dit ook aan mense doen, en veel erger. Ek bid dat Hy daai man sal hard genoeg tref dat hy nie net nooit weer ʼn mes op ʼn lewendige wese sal uitpluk nie, maar tot sy sinne sal kom en sy hart vir Hom sal gee.

Genis ·

A Nation is judged how they treat their animals… need I say more?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.