
Oliver se eienaar het hom ‘n dié emmer vol olie by die DBV aangebring. (Foto: Facebook/DBV Boksburg)
Die eienaar van ʼn worshondkruising het dié hond die afgelope week in ʼn ou blik vol motorolie by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se tak in Boksburg afgelaai.
Die hondjie, wat intussen Oliver gedoop is, se eienaar het volgens beamptes van die DBV Dinsdag by dié tak ingestap, ʼn ou blikemmer op die toonbank neergesit en vir hulle gesê dat hulle die hond in die emmer moet vat, aangesien hy nie meer die hond wou hê nie.
“In die emmer, brandmaer en geweek in motorolie, was iets wat soos ʼn hond gelyk het,” skryf die beamptes van die DBV op hul Facebook-blad. Die eienaar beweer die hond was ʼn lang tyd reeds siek. “Die klein hondjie het sy kop opgelig en rondom hom gekyk. Toe ons hom uit die emmer lig en sien dat hy steeds kan loop, het ons geweet daar is hoop vir hom,” lui die plasing op die Facebook-blad.
Intussen is Oliver na ʼn plaaslike veearts geneem, wat binneaarse voeding toegedien het om hom te behandel vir bloedarmoede. Hy is ook vier keer op een dag gebad om die motorolie van hom af te was.
Dieselfde dag nog het donasies van lede van die publiek begin instroom vir Oliver se mediese behandeling en luidens die Facebook-blad is die geld gebruik om vir hom ʼn elektriese kombers te koop en hom vir X-strale te stuur, aangesien hy bietjie van ʼn hoes gehad het. Hy het ook Woensdag steeds binneaarse voeding ontvang. “Hy is steeds baie depressief en beweeg nie baie in sy hok rond nie,” het beamptes Woensdag op Facebook geskryf.
Hy was teen Vrydagmiddag steeds in die hospitaal, maar die uitslae van sy bloedtoetse het intussen gewys dat daar niks ernstig fout is nie. “Hy ly wel nog aan effense bloedarmoede en die veearts dink dis te wyte aan die erge wurminfestasie waaraan hy gely het toe hy opgeneem is. Indien hy nie teen Maandag beter is nie, sal ons hom na ʼn spesialis neem. Dit is moontlik danksy al die skenkings wat ons tot dusver ontvang het.”
Die hondjie het ook Vrydag vir die eerste keer geblaf en die veearts vermoed dit was om haar te herinner dat sy sy kosbak moet opvul.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Vieslik
Ons moet seker net bly wees dat hy hom nie langs die pad gelos het nie… Idioot…
Oulike hond. Vieslike mens. Dankie vir die omgee. Worshonde en hul kruisings is meesal op en wakker.
Die mens – kroon van die Skepping? God is waarlik ‘n genadige God want ek sou die mensdom se “reset” knoppie gedruk al lankal het. Veral in hierdie land. Dankie tog vir ‘n paar goeie siele wat skenkings gemaak het, miskien is daar tog hoop?
Ek raak woedend as diere mishandel word! Sommige mense is gewetenloos! Dankie aan die DBV dat julle die hondjie so mooi versorg.